Monday 3 September 2012

Bestryders veg verwoed teen veldbrand

CLARENS. – Boere en brandbestryders het die naweek hier verwoed in die sterk wind geveg teen ’n veldbrand wat drie keer van voor af opgevlam het.

Die brand het Saterdagoggend tussen bloekombome op die plaas Trekpad uitgebreek. Franco Maree van die brandvereniging hier sê sowat 500ha veld het afgebrand. Geen vee is vrek nie.

Maree sê die vuur het drie keer weer opgevlam voordat hulle dit onder beheer kon kry.

Dit is nog nie seker hoe dit ontstaan het nie.

Malcolm Procter, adjunk-direkteur: bos- en veldbrandoorsig van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê ’n vermeende brandstigter is die naweek op Bethlehem gevang toe hy probeer het om veld aan die brand te steek.

Hy sê hy het ’n sterk vermoede dat brandstigting al jare aan die gang is op Bethlehem.

Procter sê brande het ook die naweek op Kaallaagte en Kestell gewoed.

Veldbrande het die afgelope maand groot skade by Memel, Verkeerdevlei en Warden aangerig. By Memel het sowat 55000ha in die slag gebly toe ’n brand op 11 Augustus op die plaas Paradys uitgebreek het.

Weiding op 6000 ha het dieselfde dag by Verkeerdevlei afgebrand toe ’n brand by die stortingsterrein uitgebreek het.

By Warden het sowat 10000ha verlede naweek in die slag gebly nadat ’n brand op die plaas Rooikop uitgebreek het.

Tonie Rossouw, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, het vroeër gewaarsku dat sterk winde gereeld in September in die Vrystaat kan woed.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment