Monday 3 September 2012

Boere sukkel ná veldbrand

Johannesburg – Theo de Jager, adjunk-president van Agri SA, sê baie boere in Limpopo sukkel om hul vee te voer nadat duisende hektaar grond die naweek afgebrand het.

RSG berig boere van oor die provinsie is besig om die skade te bepaal nadat brande verskeie plantasies, vrugteboorde en oeste verwoes het.

Beeld het vroeër berig ‘n bejaarde egpaar het in dié brand by die Sondela-oord naby Bela-Bela gesterf.

Die koerant berig die verwoestende brand het buite die oord ontstaan en vinnig deur die perseel versprei. Gaste kon nie hul besittings betyds kry nie.

Personeellede van die oord het 500 ander gaste ontruim, maar kon nie daarin slaag om Ig van Rooyen (76) en sy vrou, Nita (75), betyds te red nie, het die koerant berig.

Ian Jansen van Rensburg, besturende direkteur van Sondela, sê teen die tyd wat mense besef het die Van Rooyens word vermis, het die egpaar se chalet reeds aan die brand geslaan.

Die egpaar het saam met Nita se broer, Horace Geyer, in hul chalet gebly. Geyer het gedink die egpaar was agter hom toe hy gevlug het.

Altesaam 20 mense het ligte beserings opgedoen en tien ander is in ‘n hospitaal vir brandwonde behandel.

Baie van die wilde diere in die natuurreservaat is verbrand of beseer en sowat 1 500 ha veld het afgebrand.

Die diere wat te erg gebrand het, is uitgesit.

- NUUS24

No comments:

Post a Comment