Wednesday 5 September 2012

Droogte wag op SA, sê weerkenner oor El Niño wat op pad is

JOHANNESBURG. – Daar is ’n 80%-kans dat die El Niño-weerverskynsel Suid-Afrika gaan tref.

Dit beteken waarskynlik dat September, Oktober en November baie nat gaan wees, maar dat droogte in Desember, Januarie, Februarie en Maart aanstaande jaar gaan intree, het Johan van den Berg, bestuurder: gespesialiseerde gewas-versekering van Santam Agri in Bloemfontein, gister gesê.

Hy het op ’n landbou-vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê weervoorspellers se selfvertroue is deesdae baie laag omdat hulle verkeerde voorspellings doen.

Aan die begin van die jaar het hulle voorspel Februarie en Maart vanjaar gaan nat wees. “En toe was dit al die tyd droog. Dit was dus ’n heeltemal verkeerde voorspelling.”

Van den Berg meen egter sy voorspelling dat ’n El Niño-weerverskynsel op pad is, is 80% korrek.

Hy het graanboere gewaarsku om nie te gou opgewonde te raak as baie reën in die eerste drie maande van die somerseisoen val nie omdat die droogte direk daarop kan volg.

Volgens Van den Berg is dit deesdae baie moeilik om akkurate voorspellings te maak omdat die klimaat onvoorspelbaar geraak het.

Hy het ook gewaarsku dat siklone wat in die Indiese Oseaan ontstaan die ooste van die land weer soos begin vanjaar kan tref.

Die siklone ontstaan omdat die temperature in die oseaan styg. Dit wil voorkom asof dit vanjaar weer gaan gebeur, het hy gesê.

Jerry Norton, Amerikaanse graananalis en lid van die Wêreld-Landbou-vooruitskattingsraad, het gesê die droogte wat Amerika se mieliesektor in Junie, Julie en Augustus getref het, bied groot geleenthede vir Suid-Afrika om ’n groter rol in die uitvoermark van dié gewas te speel.

Norton het die droogte en die gepaardgaande hoë temperature as vernietigend beskryf.

Hy het gesê in die laaste vier jaar het die vraag na mielies in die wêreld die aanbod verreweg oorskry.

Ken Su van PricewaterhouseCoopers se kantoor in China het gesê dié land is nou amptelik Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.

“Die geleenthede om voedsel van goeie gehalte na China uit te voer is legio.”

China se 1,35miljard mense moet gevoed word en die land produseer nie genoeg om in die vraag te voorsien nie.

Welvaart in China is aan die toeneem, het hy gesê. Die helfte van die bevolking gaan eet een tot drie keer per week uit en 26,4% besoek restaurante vier tot ses keer per week. Altesaam 15% van die bevolking eet elke dag uit, het hy gesê.

“Hulle hou van goeie, gesonde kos.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment