Wednesday, 19 September 2012

Vlieënier ontkom toe hy plek in bussie opgee

KAAPSTAD. – ’n Kaapse vlieënier het die bomaanval gister in Kaboel ontsnap omdat hy sy plek in die gedoemde bussie vir iemand anders gegee het.

“Ons het ’n bom hier gehad, maar ek is oukei,” het David Relnic (31) van Durbanville gister omtrent 07:00 aan sy pa, Robert, oor die telefoon gesê.

Veel meer kon sy seun nie sê nie.

“Hy het gesê dat hy nie daaroor mag praat nie. Die voorval word nog ondersoek,” het Robert Relnic gesê.

Hy het gesê hy is dankbaar dat sy seun nog leef, maar is steeds senuweeagtig.

“Ek is steeds nie seker of David beseer is nie – hy wil nie veel sê nie. Hy is geweldig getraumatiseer, maar dit is te verstane aangesien hy gesien het hoe sy vriende opgeblaas word.”

Relnic jr., wat al twee jaar vir ACS Balmoral as vlieënier in die Midde-Ooste werk, het volgens EWN vir sy pa gesê hy voel skuldig oor wat met sy kollegas en vriende gebeur het.

Hy het volgens sy pa in ’n ander bus oorgeklim omdat die eerste te vol was – enkele minute voordat die selfmoordaanvaller teen die eerste bussie vasgejaag het.

David kom volgens sy pa volgende Saterdag terug huis toe.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment