Monday 22 October 2012

Gure weer laat verwoestingspoor

Karen Harmse, 'n Nuus24-gebruiker, het dié foto gestuur van 'n gedeelte van die N2 wat ingesak het.

Johannesburg – Reën maak steeds amok in die Oos-Kaap en dele van die N2 is vir verkeer gesluit, het die Oos-Kaapse rampbestuursentrum Sondag gesê.

"Daar is 'n groot gat, sowat 25 m wyd en 50 m diep op die N2, by die Pumba-wildplaas tussen Port Elizabeth en Grahamstad, het kapt. John Fobian gesê.

"Die pad is gesluit en verkeer word vanaf Port Elizabeth na die Cradock-pad N10 rondom Cookhouse en terug na Grahamstad of Oos-Londen herlei."

Voor die pad Saterdag ingesak het, het 'n vragmotor, wat in vloedwater vasgekeer was, omgeslaan. Die polisie, duikers en 'n reddingspan is ontbied om die passasiers te red.

Terwyl hulle nog besig was met dié reddingsoperasie, het nóg 'n motor 'n slaggat getref en teen 'n voertuig gebots wat in die teenoorgestelde rigting gereis het. Een persoon is dood in dié ongeluk.

Die kuspad tussen Port Elizabeth, via Port Alfred, na Oos-Londen is Sondagoggend 07:30 vir verkeer heropen.

Laura-Leigh Randall, woordvoerder vir die Kouga-munisipaliteit, het gesê die Sandrivier-brug tussen Kaap St. Francis en St. Francisbaai is weggespoel en dat die water steeds sterk vloei, berig die SABC.

Port Elizabeth se Nasionale seereddingsinstituut (NSRI) het Sondagoggend 76 mense en 'n hond gered.

'n Groep gelowiges was naby die Swartkopsrivier gestrand, het die NSRI gesê.

Vierwielmotorfietse en 4x4-voertuie is in die reddingsoperasie gebruik en boomstamme en toue is gebruik om die groep te help om die rivier oor te steek.

Niemand is beseer nie.


- SAPA/Nuus24

No comments:

Post a Comment