Wyle Terry Joubert se weduwee, Jeanine (middel) staan by burgemeesters Emor Nel en Wessie van der Westhuizen tydens die opening van die nuwe brandweerstasie op Riversdal. Fotos: Louise Mouton
EDEN DISTRIK NUUS - Vir brandweerman Terry Joubert was 'n brandweerstasie op Riversdal 'n lewens-droom. Joubert het alles in die stryd gewerp vir die ontstaan van dié brandweerstasie, maar nie sonder die wete dat hy ook in sy geveg om ander se lewens te red sy eie lewe kan verloor nie.
Juis tydens 'n helikoptervlug waar Joubert deel van 'n span was om 'n verwoestende brand te blus, het hy aan 'n hartaanval gesterf. Joubert se droom het egter voortgeleef. Verlede Woensdag 3 Oktober is die brandweerstasie op Riversdal geopen. Sy vrou, Jeanine het die opening bygewoon waar die Eden-distriksraad en Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeesters, Wessie van der Westhuizen (Eden) en Emor Nel (Hessequa) die belangrike gebeurtenis behartig het. Ander genooide gaste en amptenary het ook deel uitgemaak van die geskiedkundige dag.
In sy openingsrede het Van der Westhuizen die brandweerdienslewering samewerkingsooreenkoms tussen die Hessequa-munisipa-liteit en Eden-distriksmunisipaliteit, as 'n suksesverhaal voorgehou. Wat die ooreenkoms meer uniek maak is juis dat dit moontlik gemaak is deur 'n besparing wat deur Van der Westhuizen aangemoedig is toe die Eden-distriksmunisipaliteit se raadslede hul jaarlikse salarisverhoging vroeër die jaar ingeboet het.
Die fondse is aangewend om die brandweerstasie op te rig, 'n aksie wat dui op die toonbeeld van Eden se passie tot dienslewering.
Joubert se weduwee, Jeanine het ook die spesiale naambord 'Terry se droom' onthul. In 'n spesiale huldeblyk is Amazing Grace deur een van die brandweerlede op 'n saxofoon gespeel waarna almal teenwoordig 'n minuut van stilte ter nagedagtenis van Terry gehuldig het.
Die brandweerstasie sal 'n koördineringsplatform vir nooddienslewering in die Hessequa-streek vervul en sal ook as rampbestuur gesentraliseerde operasionele sentrum dien. In die toekoms sal die fasiliteit ook dien as basis vir die Werk met Vuur (WOF)-projek.
Dit is 'n projek wat sedert 2010 in samewerking met die Suid-Kaap-brandbeskermingsvereniging (SCFPA), begin is en wat jaarliks meer as R2,5 miljoen na die streek bring. Die Eden-distriksmunisipaliteit lewer sedert 2009 op kontrakbasis brandweerdienste in die Hessequa munisipale area. Die dienste wat ten bedrae van R2,7 miljoen 2012/2013 boekjaar gelewer sal word, sluit in 'n 24/7 brandweerstasie in beide Riversdal en Melkhoutfontein.
Eden-distriksmunisipaliteit en die Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende
burgemeesters, Wessie van der Westhuizen en Emor Nel stap deur 'n
erewag met hul aankoms by die opening van Hessequa se nuwe
brandweerstasie.
- GEORGE HERALD
No comments:
Post a Comment