Friday 19 October 2012

Swaar reënval waarskuwing vir Suid Kaap


Die Touwrivier in Wildernis en Groot Brakrivier se mondings word tans oopgestoot om die vloei van die water na die see beter te kan beheer.

SUID-KAAP NUUS - Die hoof van Eden-rampbestuur, mnr. Gerhard Otto het 'n ernstige waarskuwing uitgereik vir swaar reën en die moontlikheid van vloede met tot meer as 100mm reënval wat vir môre (Saterdag, 20 Oktober) verwag word.

Die Touwrivier in Wildernis en Groot Brakrivier se mondings word tans oopgestoot om die vloei van die water na die see beter te kan beheer. Plek-plek in die Suid-Kaap is reeds meer as 70mm reën geval sedert Maandag gemeet en volgens Otto is die grond reeds baie versadig na die laaste paar dae se reën.

Huise op die oewer van die Groot Brakrivier word reeds ontruim en die kans dat laagliggende vakansiehuise langs die Touwrivier ook later vandag ontruim kan word, word nie uitgesluit nie. Rampbestuur en ander nooddienste is reeds op bystand geplaas.

Volgens Otto treë hulle pro-aktief op.

Mnr. Barend Nelson, waarnemende direkteur van die George-munisipaliteit se gemeenskapsveiligheid het kort na 12:00 vanmiddag bevestig dat hulle besig is om die munisipaliteit se nood en rampbestuursplan in werking te stel.

Volgens Nelson monitor hulle reeds sedert vanoggend 03:00 die Touwrivier. Gemeenskapsale word ook reeds ingerig om mense te huisves indien nodig.

Die George-munisipaliteit is besig om tot op Uniondale voorsorgmaatreëls in plek te stel vir moontlike vloede.

- George Herald

No comments:

Post a Comment