Friday 26 October 2012

Teaterstuk: Wees bedag op rampe


Tydens 'n pittige industriële teaterstuk van die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering se Rampbestuursentrum, is die gevare van brande, weghol vure en vloede op interessante wyse aan die Powertown gemeenskap oorgedra. Foto: Nickey le Roux

SUID-KAAP NUUS - Die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering se provinsiale Rampbestuur Sentrum het 'n Vuur en Vloed bewusmakingsveldtog in die Suid-kaap aangebied.

Tydens 'n byeenkoms in Powertown op Dinsdag, 23 Oktober, het talle gemeenskapslede die prettige toneelstukkies met 'n pittige boodskap baie geniet, en die wisselwerking met die publiek het duidelik gewys dat begrip vir die belangrike boodskap gekweek is.

Die doel was om die effek van rampe, soos weghol brande en skielike vloede, deur 'n 30 minute industriële teaterstuk by die gemeenskap tuis te bring, en hulle te leer hoe om sodanige situasies te hanteer. Die gevare van 'speel met vuur' is ook duidelik toegelig.

Die plaaslike saaltjie was gepak met klein en groot, wat hard saam-saam geleer het aan die noodnommers 10177 en 112.
Die projek se tydsberekening is juis daarop gemik om bewusmaking te doen net voor die aanvang van die brandseisoen, sodat onnodige vure en tragedies verhoed kan word.

Die projek, wat in 2006 geloods is, se 2012 program is veral gemik op plattelandse gemeenskappe, skole en areas waar die teaterstuk nog nie vantevore aangebied is nie.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment