Sunday, 13 January 2013

Dank verskuldig aan Suid Kaap Nooddienste

Brandslaners moes hierdie feestyd 33 veldbrande hanteer. Foto: Nickey le Roux

MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai en omstreke is die verskillende vertakkinge van die Mosselbaai nooddienste groot dank verskuldig vir hul onbaatsugtige diens oor die afgelope feestyd.

Hierdie mense het tyd saam met hul gesinne en families opgeoffer om seker te maak dat die strande, woonbuurte, woonwaparke en paaie vir Jan en alleman veilig was sodat daar ongestoord vakansie gehou kon word.

Brandweer

Benewens die nooddienste, was daar ook mense wat betrokke was by basiese dienslewering wat omgesien het na water-, elektrisiteits- en riooldienste. Skoonmaakspanne het reeds om 03:00 op Nuwejaarsoggend begin om strande waar daar groot vieringe was, soos op Hartenbos en De Bakke, betyds skoon te kry vir die dagbesoekers die volgende oggend.

Brandweerpersoneel het daagliks die strande besoek om seker te maak dat alles daar vlot verloop en om 'n ogie oor die lewensreddingsdienste te hou.

Daarbenewens is vyf brande by huise geblus en brande by vyf informele huise is ook hanteer. Daar was twee brande wat as konstruksie brande geklassifiseer word, terwyl hulle behoorlik moes bontstaan om 33 veldbrande in die omgewing te blus. Boonop het hulle ook een voertuig wat aan die brand geslaan het, te hulp gesnel.

Weinig Mosselbaaiers besef dat dit ook 'n funksie van die brandweer is om slange by huise en sakepersele te verwyder, en nege slange is hierdie feesseisoen gevang en gepas verwyder. Hul swaar werkslas is boonop bemoeilik deur agt gevalle van vals alarms waarheen hulle uitgeroep is.

Brandweerpersoneel het ook die toneel van 26 motorvoertuigongelukke besoek waar hul gespesialiseerde kennis en toerusting lewens gered het. Daar was ook 11 gevalle van spesiale dienste.

Verkeersdienste

Die personeel van Gemeenskapsveiligheid, oftewel die verkeersdienste, het hul hande volg gehad met padveiligheid en hul vermoë en vernuf is behoorlik beproef. Personeel was was ook gemoeid met ander aktiwiteite soos die hantering van begrafnisstoetdienste, sportbyeenkomste en klagtes van die publiek.

Verkeerspersoneel het die afgelope sovervakansie 2 294 voertuie vir padwaardigheid ondersoek en 18 voertuie van die pad gehaal. Daar is 47 keer op hul knoppie gedruk om verkeersongelukke by te woon, terwyl hulle 629 klagtes bygewoon en bemiddel het. Hulle moes 76 keer begeleidings doen, terwyl 58 ander spesiale funksies gelewer is.

Gemeenskapsveiligheidsbeamptes het 294 uur puntdiens by agt verskillende punte gedoen om verkeersvloei aan te help. Hierdie diens het veral op Louis Fourieweg handig te pas gekom met die ellelange rye wat daagliks daar trotseer moes word.
Drankmisbruik het nie agterweë gebly nie en daar is agt persone gearresteer wat onder die invloed van alkohol bestuur het. Hierbenewens is twee padveiligheidsprojekte geloods en 71 wetstoepassingsaksies van stapel gestuur.

Tegniese Dienste

Personeel van die direktoraat Tegniese Dienste was veral besig en moes 118 keer na probleme met watertoevoer, 155 rioolklagte en 200 gevalle van probleme met elektrisiteitstoevoer hanteer.


Lewensredders Wynand Joubert (van George), Jessica van der Merwe (Mosselbaai) en Gerhard Blom (Bay View in Hartenbos) het op Klein-Brakrivier strand, 'n Blouvlag strand, diens gedoen. Foto: Elaine van der Toorn

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment