Saturday 21 January 2012

Almal wil help

Goeie samewerking in Hoedspruit tussen lede van die gemeenskap, die polisie, die lugmag en die nooddienste het in die twee dae tot gister minstens 236 mense na veiligheid besorg.

Inwoners, sakelui en ’n raadgewende ingenieursfirma het gister die verspoelde Sandspruitbrug buite die dorp op hul eie koste tydelik herstel.

Die herstel van die brug kon mense wat twee dae lank afgesny was van die dorp dadelik weer toegang gee om hul kos- en ander voorrade aan te vul.

Mnr. Andrew Molyneaux se vrou en drie maande oue dogterjie, wie se name hy nie wou verstrek nie, was eergisternag buite die dorp op hul plaas vasgekeer “met byna geen kos nie”, terwyl hy in die dorp vasgekeer was.

“Behalwe die enorme skade is daar soveel mense wat wonder of hul families nog oukei is,” het Molyneaux gesê.

Mnr. Mike Scott, voorsitter van die Hoedspruit-plaaswag, sê hy kry “sommer trane van blydskap” in sy oë as hy sien hoe die gemeenskap saamstaan om mense te red.

“Dit is net jammer dat die munisipaliteit nie sy kant wil bring nie. Die munisipaliteit help nie om die paaie skoon en oop te kry nie. Dit (die skoonmakery van paaie wat wel plaasgevind het) is alles aan die gemeenskap te danke.”

Mnr. Pule Mafologele, burgemeester van die Maruleng-munisipaliteit, waarin Hoedspruit val, het gesê die stadsraad het wel gewys hy bring sy kant deur die noodoperasies wat hy gereël het.

“Daar is ook wel verskeie munisipale werkers besig om paaie skoon te maak.”

Hy het gesê die raad is ook besig om rampbestuurplanne te finaliseer en in te stel.

Scott het gesê die gemeenskap, gastehuise en kerke het ook ingegryp om mense wie se huise verspoel het ’n dak oor hul kop te gee.

Mnr. Ryno van der Westhuizen, mede-eienaar van Kalimambo-restaurant in die dorp, was ook vol lof omdat almal so goed saamgewerk het.

“Almal help, selfs jy en jou buurman wat al 20 jaar lank baklei, werk saam en help in dié tyd van nood.”

Van der Westhuizen en mnr. Jaco Badenhorst, ander eienaar van Kalimambo, wat langs Hoedspruit lê, het derduisende rande se skade gely.

Die plek wat die ergste deur die vloede getref is, was die Blyde-avontuurkamp in die Blydevallei.

Met ’n helikoptervlug oor die kamp gistermiddag was vier voertuie wat op hul dakke teen bome gespoel gelê het en geboue wat platgevee is, sigbaar.

Net een gebou het deels die wateraanslag deurstaan.

Mense is uit die lug opgemerk waar hulle in die kamp kajakke en enigiets anders wat nie weggespoel het nie, herwin.

Verskeie mense op die dorp het gesê dis die ergste vloede en skade wat hulle nóg ervaar het.

Kol. André Barends, bevelvoerder van die Hoedspruit-lugmagbasis, het gesê as dit nie vir almal se flink optrede was nie, sou die vloede talle menselewens geëis het.

- Die Beeld

No comments:

Post a Comment