Tuesday 3 January 2012

Baba verdrink in Welkom

Foto: Klein Monya Zinn

WELKOM. – “Dit is nie wat ons nou al vir haar wou gehad het nie, maar sy is nou ’n engeltjie by die Here.”

So sê die hartseer mev. Rosa van Heerden, ouma van klein Mon­ya Zinn, wat op Oujaarsdag hier in die swembad by haar oumagrootjie se huis verdrink het.

Monya sou Vrydag een jaar oud gewees het.

Die voorval was op die laaste dag wat haar ouers, mnr. Ronald en mev. Eska Zinn, die huis van mev. Hester Nel, wat met vakansie was, opgepas het.

Mnr. Zinn het Saterdagoggend vroeg opgestaan om die deur vir die honde oop te maak en het toe weer op die bed gaan sit, ’n sigaret gerook en weer aan die slaap geraak. Toe hulle later wakker word, was Monya weg. Ná ’n soektog in die huis is sy in die swembad gekry.

Van Heerden sê die familie is verpletter. Sy sê dit is ’n raaisel hoe klein Monya, wat by haar ouers op die bed gelê het, daar kon afkom sonder dat hulle haar gehoor het.

“Sy huil altyd as sy wakker word omdat sy dan melk wil hê. As sy van die bed afgeval het, sou sy ook gehuil het. Sy het nog nooit voorheen self van die bed kon afkom nie.”

Sy sê dit lyk of Monya eers na die badkamer gekruip en ’n speelding daar gevat het, voordat sy by die deur uit is. ’n Bal wat op die water gedryf het, het moontlik haar aandag getrek.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment