Saturday, 21 January 2012

Bokkie duikend gered

Lt.kol. Chris Hattingh hou ’n klein bosbokkie vas wat hy Woensdagoggend van ’n eiland af gered het in die Kapama- private reservaat buite Hoedspruit. Foto: ao. Noël Kloppers

’n Lugmagoffisier van Hoedspruit het in gietende reën ’n duikslag uitgevoer om ’n verskrikte bosboklam te red wat op ’n eiland vasgekeer was.

Hy het die bokkie Betsie gedoop na aanleiding van die Mohlabetsirivier waaruit hy hom gered het, het lt.kol. Chris Hattingh gister gesê.

Dit het intussen geblyk die bokkie is ’n rammetjie.

“Ek voel eintlik half skaam daaroor (die aandag), want daar was erger reddings wat plaasgevind het.

Dit is maar net iets instinktiefs wat ek gedoen het. Dis iets kleins wat huil en dan gaan soek jy hom,” het Hattingh gesê.

Erge reën het Dinsdag en Woensdag oor Hoedspruit en omgewing neergesak en veroorsaak dat verskeie paaie en brûe verspoel het.

Hattingh was dié oggend vroeg op pad na die Hoedspruit-lugmagbasis, waar hy werk toe hy sien die brug het verspoel.

Hy het toe besluit om ’n ander roete te gaan soek om by die basis uit te kom.

Langs die Kapama- private reservaat moes Hattingh weer ’n brug, wat oor die Mohlabe-tsirivier loop, oorsteek. Hy het uit sy msotor geklim om te kyk hoe diep die water is.

Terwyl hy halflyf in die water gestaan het, het hy ’n bokkie se knaende gehuil gehoor.

“Oral om my was eilandjies. Ek het om my gekyk en gesien daar staan die bokkie op ’n eiland en bewe,” het Hattingh gesê.

“Ek het net besluit ek moet die outjie gaan haal.”

Die eiland was sowat 50 m van Hattingh af. Dié reservaat het Woensdag binne 24 uur 470 mm se reën gekry.

Hattingh moes oor die reservaat se heining klim wat platgeval het en deur water loop wat tot onder sy borskas gekom het.

Volgens Hattingh het die water sterk gevloei.

“Die eerste vangkans was mis. Toe hardloop die bokkie weg,” het Hattingh gesê.

“Die tweede keer toe duik ek agter ’n bos in en vang die ou­tjie.

“Ek dink die water het die bokkie tot daar meegesleur. Dit was net sy geluk dat hy op die eiland uitgespoel het, anders was hy weg.”

Hattingh het die bokkie na ’n veearts in Hoedspruit geneem.

Dié het die bokkie, wat vermoedelik tussen twee en drie maande oud is, weer aan ’n wildplaas in die omgewing gegee.

Hy word met die hand gevoer en dit het gister goed met hom gegaan.

- Die Beeld

No comments:

Post a Comment