Saturday 21 January 2012

Man klou ure lank aan boom in rivier

NELSPRUIT. – ’n Mosambieker moes gister byna vyf uur lank om lewe en dood aan ’n boom in ’n rivier in vloed vasklou voordat hy deur die polisie gered kon word.

Mnr. Mandla Malati (24) woon in die Phiva-trustgebied naby Komatipoort.

Hy is vasgekeer toe hy glo probeer het om die Komatirivier met ’n vlot oor te steek.

Die vloedwater het egter sy vlot omgekeer en hom meegesleur.

Hy kon dit regkry om in die boom, wat skaars bo die water in die middel van die kolkende watermassa uitgesteek het, te klim.

’n Polisiehelikopter met kol. Henk Goedhart agter die stuurstang, is van Nelspruit ontbied om die man te red.

Ao. Danie Theron van die polisie se reddingseenheid in die Laeveld is met ’n wen­as laat sak om Malati uit die boom op te pik.

Drie mense het tot dusver in die provinsie as gevolg van die vloede verdrink.

’n Vrou van Mala naby Thulamahashe in Bosbokrand is dood nadat sy deur vloedwater oorval is.

In Lydenburg het twee kinders van twee en vyf jaar oud in ’n gat water by hul hut op ’n plaas buite die dorp verdrink.

’n Man van Malaynini naby Tonga is dood toe sy modderhut inmekaargesak het, het lt.kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.

–Buks Viljoen

- Die Burger

No comments:

Post a Comment