Saturday 21 January 2012

Koeler weer ná hittegolf verwag (19 Januarie 2012)

KAAPSTAD. – Inwoners van die Wes-Kaap kan ’n sug van verligting slaak – die hittegolf is vandag verby en daar word nie binnekort nog een verwag nie.

Volgens mnr. Gerrie Keyser, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), gaan die temperatuur in die provinsie oor die naweek effens daal. “Dit gaan nog redelik warm wees, maar dis net gewone somertemperature,” het hy aan Shané Barnard gesê.

Clanwilliam kan steeds ’n temperatuur van 34°C verwag, terwyl dit op ander Weskus-dorpe, soos Vredendal, tot onder 30°C kan daal.

Inwoners van Wellington het gister steeds gesweet en 33,3°C is teen 16:00 op die dorp gemeet.

Me. Ilse Heath, ’n inwoner, het gesê dit is baie bedompig. “Hier is donderwolke in die lug, maar daar het nog geen reën geval nie.”

Die hoogste temperatuur van die dag was die 34,6°C wat op Worcester gemeet is. Die SAWD het donderbuie vir dié omgewing oor die naweek voorspel.

Temperature van hoër as 30°C word steeds oor die naweek vir groot dele van die Boland voorspel. Aan die Weskus gaan warm toestande voortduur.

In Kaapstad sal die termometer vandag tot 28°C opstoot. Geen reën word in die stad verwag nie.

Intussen het hewige reën op De Doorns gisteraand veroorsaak dat die N1 by die dorp gesluit is nadat die pad oorstroom het, berig Leighton Koopman.

Karoo-boere kon ook asem skep nadat dit Dinsdag en Woensdag op Loxton gerëen het.

Mnr. Steve Moseley, eienaar van die Karoo Cottage, het gesê: “Die boere hier noem dit ‘jaloersbuie’, want dit reën op die een se plaas, maar nie op die buurman s’n nie.” Altesaam 53 mm reën het verlede week op een dag geval.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment