Friday 20 January 2012

Oudtshoorn: Brand lê herwinningsaanleg in puin


OUDTSHOORN NUUS - 'n Verwoestende brand gisteraand by 'n herwinningsonderneming in die industriële gebied in Oudtshoorn-Suid het sowat R2-miljoen se skade veroorsaak.

Die slaapkwartiere, 'n skuur, 'n baalmasjien van R300 000 en al die voorraad het in die slag gebly. Niemand is in die brand beseer nie.

Die eienaar van Retain, Recycle, Re-use C.C., Nic van Beeck sê die oorsaak van die brand is nog onbekend. "Ek is omstreeks 17:30 huis toe en die brand het vermoedelik tussen 17:45 en 18:00 uitgebreek. Op die stadium dink ons dit was 'n kortsluiting."

Die brand het glo weg van die slaapkwartiere aan die oostekant van die gebou ontstaan. Die as en puin het gisteroggend om 09:00 nog gesmeul na die brand eers vroeg in die oggendure onder beheer gebring is. Van Beeck was reeds vroegoggend terug by sy eiendom na hy eers 03:00 die nag daar weg is.

Van Beeck sê hy het geen idee hoe gou die herwinningsaanleg - die enigste in Oudtshoorn - weer operasioneel sal wees nie. "Dit hang alles af van wat die versekering sê en hoe gou hulle uitbetaal."

- Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment