Friday 20 January 2012

Vloed: Minstens 236 mense gered

Foto: Mnr. Mandla Malati (24), ’n Mosambiekse burger, word deur ao. Danie Theron van die polisie se reddingseenheid nadergeroep sodat hy in die polisiehelikopter opgehys kan word.

HOEDSPRUIT. – Goeie samewerking hier tussen lede van die gemeenskap, die polisie, die lugmag en die nooddienste het in die twee dae daartoe gelei dat minstens 236 mense na veiligheid gebring is.

Inwoners, sakelui en ’n raadgewende ingenieursfirma het gister die verspoelde Sandspruitbrug buite die dorp op hul eie koste tydelik herstel. Die herstel van die brug kon mense wat twee dae lank afgesny was van die dorp, onmiddellik weer ’n geleentheid gee om hul kos- en ander voorrade aan te vul.

Mnr. Andrew Molyneaux se vrou en drie maande oue dogterjie, wie se name hy nie wou verstrek nie, was eergisternag buite die dorp op hul plaas vasgekeer “met byna geen kos nie” terwyl hy op die dorp vasgekeer was. “Behalwe die enorme skade is daar soveel mense wat wonder of hul gesinne nog oukei is,” het Molyneuax gesê.

Mnr. Mike Scott, voorsitter van die Hoedspruit-plaaswag, sê hy kry “sommer trane van blydskap” in sy oë as hy sien hoe die gemeenskap saamstaan om mense te red. “Dit is net jammer dat die munisipaliteit nie sy kant wil bring nie.

“Die munisipaliteit help nie om die paaie skoon en oop te kry nie. Dit (die skoonmakery van paaie wat wel plaasgevind het) is alles aan die gemeenskap te danke.”

Mnr. Pule Mafologele, burgemeester van die Maruleng-munisipaliteit, waarin Hoedspruit val, het gesê die stadsraad het wel gewys hy bring sy kant deur die noodoperasies wat hy gereël het. “Daar is ook wel verskeie munisipale werkers besig om paaie skoon te maak.” Hy sê die raad is ook besig om rampbestuurplanne uit te voer.

Scott het gesê die gemeenskap, gastehuise en kerke het ook ingegryp om aan mense wie se huise verspoel het, ’n dak oor hul kop te gee.

Die plek wat die ergste deur die vloede getref is, was die Blyde-avontuurkamp in die Blydevallei. Met ’n helikoptervlug oor die kamp gistermiddag was vier voertuie wat op hul dakke teen bome gespoel gelê het en geboue wat platgevee is, duidelik sigbaar. Net een gebou het deels die wateraanslag weerstaan. Mense is uit die lug opgemerk waar hulle in die kamp kajakke en enigiets anders wat nie weggespoel het nie, herwin.

Verskeie mense op die dorp sê dié is die ergste vloede en skade wat hulle nog ervaar het.)Goeie nuus vir die vloedgeteisterde gebiede is dat die tropiese storm Dando heeltemal verswak het en geen verdere swaar reënneerslae verwag word nie.

Mnr. Jan Vermeulen, ’n weervoorspeller by die SA Weerdiens, het gister gesê Dando beweeg in die rigting van Botswana.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment