Friday 20 January 2012

Vreemde weer ons voorland

JOHANNESBURG. – Suid-Afrikaners in die grootste deel van die land moet hulle voorberei op swaar reën en “vreemde weer” in Februarie, Maart en April.
Boonop gaan die winter sy kloue vroeër as gewoonlik inslaan.

Die enigste gebiede wat in dié drie maande moontlik heelwat minder reën as die res van die land gaan kry, is die Suid-Kaap, die sentrale en noordwestelike ­dele van Limpopo en die noordwestelike deel van Mpumalanga, het mnr. Cobus Olivier, wetenskaplike en langtermynweervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), gesê.

Dit is volgens hom moontlik dat al die reën wat vir die drie maande van Februarie tot April voorspel word, in Februarie kan val. Die ander twee maande sal dan droër as gewoonlik wees en in Februarie sal groot vloede voorkom.

Olivier se weermodelle wys ook daarop dat die winter sy greep reeds in April op die land kan kry. “Ons gaan dus reeds vroeg in die winter baie koud kry.”

Terwyl die temperatuur gistermiddag digby 40?°C op Swellendam gedraai het, het brandspanne gespook om twee brande in die omgewing te blus, berig Jackie Kruger.
Goeie nuus vir die vloedgeteisterde gebiede in Limpopo en Mpumalanga is dat die tropiese storm Dando heeltemal verswak het en geen verdere swaar reën verwag word nie.

Weerlig het gister omstreeks 16:50 ’n brand in die berge by Suurbraak veroorsaak, het mnr. Reinard Geldenhuys, brandweerhoof van die Overberg-distriksmunisipaliteit, gesê.
“?’n Helikopter gooi tans (gistermiddag) water op die brand by Suurbraak.”

Volgens hom het brandspanne terselfdertyd gespook om ’n brand op die oostelike hang van die berg bo Swellendam (in die rigting van Barrydale) in bedwang te bring.

“Dié brand woed reeds die afgelope agt dae,” het me. Leanne McKrill, woordvoerder van Werk met Vuur, bevestig. Die brandlyn strek oor 20?km, berig Sapa.

Die brand het verlede Donderdag in die omgewing van die Hermitage-vallei ontstaan en toe verder versprei. Die dorpsgebied van Swellendam is in ’n sta­dium bedreig, maar die vlamme is toe weggekeer.

Plase aan die voet van die berg is vroeër beveilig. Teen gistermiddag was geen eiendom in gevaar nie.
’n Helikopter het die brandspanne na en van die berg gevlieg.

Dit is moeilik om ’n brand in die hitte te bestry, het mnr. Deon Alberts, ’n senior brandweerbeampte, gesê. Die temperatuur op Swellendam was gistermiddag sowat 39?°C. “Die spanne kry ontsettend swaar.”

Geldenhuys het vroeër gesê ­CapeNature gaan ’n ondersoek laat doen na die oorsaak van die brand.

Volgens ’n plaaslike inwoner kon dit moontlik ontstaan het weens ’n brandende ­sigaretstom- pie of ’n stuk glas waarop die son gebak het.

Die gebied is tans baie droog en dit was die laaste tyd baie warm. Meer as 2?000?ha veld en plantegroei is reeds vernietig.

Mnr. Manuel Chikwanda van die versekeringsmaatskappy ­Lion of Africa het gesê veldbrande in die Wes-Kaap het vrae laat ontstaan oor die paraatheid van private grondeienaars om onverwagte brande hier die hoof te bied, berig Sapa.

Hy het private grond- en sake-eienaars gewaarsku om aan tersaaklike wetgewing te voldoen anders kan hulle hul versekering verbeur en winsverliese en operasionele skade ly.
Private grondeienaars word ingevolge wetgewing verplig om indringerspesies op hul eiendom te bestuur en brandpaaie te maak.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment