Thursday, 16 February 2012

Seun sterf in fratsongeluk by begraafplaas

Kaapstad – ‘n Vierjarige seun het in ‘n fratsongeluk by ‘n begraafplaas in die Moederstad gesterf nadat ‘n grafsteen op hom geval het.

Die voorval het Sondag by die Maitland-begraafplaas gebeur toe die seun ‘n graf saam met sy familie besoek het.

Die familie was besig om blomme op die graf te plaas toe die ongeluk plaasgevind het.

Volgens ooggetuies was die grafsteen sowat 1 m hoog.

Die seun was na bewering nog by sy volle bewussyn nadat die grafsteen op hom geval het. Hy het egter sy bewussyn verloor toe die steen opgelig is.

Dit is onbekend wie se graf die seun besoek het en hoe die grafsteen op hom geval het.

Die kind is na die Tygerberg-hospitaal geneem, maar het kort ná sy aankoms gesterf.

Volgens George Frost van die Stad Kaapstad was daar nog nooit soortegelyke sterftes by enige van die stad se begraafplase nie.

“Ek werk al hier [by die begraafplase] sedert 2005 en hierdie is die eerste keer wat ek van hierdie [tipe ongeluk] hoor,” het Frost aan Nuus24 gesê.

Hy sê sy toesighouer, wat al “donkiejare” by Kaapstad se begraafplase werk, het ook nooit vantevore van soortgelyke voorvalle gehoor nie.

Frost sê mense is verantwoordelik vir die instandhouding van hul geliefdes se grafstene.

Hy sê die grafte van mense wat twee generasies gelede gesterf het, word gewoonlik nie meer besoek nie, wat tot hul verval lei.

Kapt. Frederick van Wyk het bevestig dat die polisie die seun se dood ondersoek.

Die kind word Vrydag begrawe.

Die familie het versoek dat die seun se naam nie gepubliseer word nie.

- Nuus24

No comments:

Post a Comment