Sunday, 27 May 2012

Families het nie meer hoop nie

KLEINZEE. – Rolin Magerman (22), George “Ouboet” Boyce (47), Emile “Amos” Boyce (16), Edward Adams (37) en Franklin Adams (28).

Hierdie is die name van enkele pa’s, seuns, broers en mans wat sedert Dinsdagoggend in ’n ou mynskag by die Bontekoe-myn buite Kleinzee in die Noord-Kaap vasgevang is.

Hul families het nie meer hoop nie. Al wat hulle wil hê, is bevestiging dat hul geliefdes daar onder in die myn is, en dan hul lyke.

“Niks meer nie,” het Siena Magerman gister aan Die Burger in haar eenvoudige baksteenhuisie op Komaggas gesê. “Ek het nie hoop dat Rolin lewe nie,” het sy gesê en hartseer begin huil.

Magerman is haar enigste kind. Sy het hom Maandagoggend laas lewend gesien. “Ek het hom nog gevra om die wasmasjien vol water te maak omdat ek wasgoed wou was.”

Magerman het gesê hy het toe nog gesê dat hy nie Dinsdagoggend by die huis gaan wees nie. Min het sy geweet dat sy haar seun nie weer lewend sou sien nie. Sy het gesê sy het geweet dat hy onder by die myn werk. “Hy het so een keer per week gaan dig en het dit ’n hit and run genoem.”

Ook vir die familie van ­George Boyce en sy seun ­Emile is die myntragedie ’n hartseer saak. Sy susterskind Abe Maritz het gister op Steinkopf gesê soos vir die res van die mense wat saam met sy oom in die mynskag is, was dit omstandighede wat hulle daarnatoe gedwing het.

“Ouboet is ’n hardwerkende en godvresende man. Hy wou sorg vir sy vrou en kinders. Wat dink u dwing ’n man om hoeveel meter onder die grond in te gaan op soek na diamante? Dis hongersnood en armoede. Niks meer nie en niks minder nie.”

Maritz het gesê Emile moes nog in die skool wees, maar omdat daar nie geld was nie, het hy die skool verlaat om sy ouers te help. Boyce se vrou, Doreen, is baie sieklik en kon nie met die media praat nie.

Vir Eloise Cloete (22) en haar broer, Edeard (15), is die verlies nog groter. Hul pa, Edward Adams, en sy broer, Franklin Adams, is Maandagaand saam die myn in. Volgens ’n familievriendin het Edward sy kinders laat weet dat hulle hom Vrydag op Springbok moet kry. Hulle het hul pa, wat op Nababeep woon, in Februarie laas gesien.

Die polisie het gister gesê nog geen van die ses lyke wat hulle uitgehaal het, is geïdentifiseer nie.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment