Thursday, 24 May 2012

George: Halfeeu in vlamme verswelg


GEORGE NUUS - Besittings en herinneringe van meer as 'n halfeeu is Sondagmiddag in 'n oogknip uitgewis toe 'n brand die statige Groeneweide-opstal van me. Erna Theron buite Blanco verswelg het.

Me. Theron en haar dogter, Mada, was baie aangedaan toe hulle by die huis opdaag en skaars die opstal deur die rook en waterdamp kon sien. Hulle het by ander nuuskieriges langs die pad gestaan en kon net gadeslaan hoe baie van die familie se besittings en herinneringe in die vlamme verwoes word.

Brandspanne van die Eden-distriksmusinipaliteit het hul bes probeer, maar kon nie verhoed dat die hele opstal verwoes word nie.

Hoewel dit nog nie bevestig kon word nie, is die vermoede dat 'n elektriese kortsluiting die brand veroorsaak het nie uitgesluit nie. Met hul aankoms by die huis kon die polisiemanne geen tekens van 'n inbraak of brandstigting bespeur nie.

Me. Theron en haar gesin het vir meer as 50 jaar in die woning gebly totdat sy maande gelede na haar dogter in Heatherpark verhuis het. Sy was aanvanklik onwillig om haar jare lange tuiste te verlaat, maar daar is vir haar veiligheid gevrees. Intussen het hulle baie van die meubels verkoop, maar die stukke en baie klerasie wat agtergebly het, is in die brand verwoes.
Me. Theron het tydens die brand gesĂȘ dat sy beplan het om die week na die brand met 'n helper na die huis te gaan om skoonmaak-takies te verrig.

Nou is alles verwoes en 'n jare lange era vir 'n familie kortstondig afgesluit.

Bure het Sondagmiddag opgemerk dat rook by die huis uitkom en dadelik alarm gemaak. Die brandweer was vinnig op die toneel en het dadelik aan die werk gespring, maar die vlamme was reeds in die dak en hulle kon niks red nie.


- George Herald

No comments:

Post a Comment