Thursday, 24 May 2012

'Ons moet myn'

’n Laaigraaf word gebruik om te help met die reddingspoging.Foto: yunus mohamed

Kleinzee. – Die gebied onder in die Bontekoe-myn waar onwettige mynwerkers sedert 2008 diamante ontgin, word nou “Facebook” genoem.

Van die mynwerkers wat gereeld in dié myn buite Kleinzee in die Noord-Kaap delf, het gister vertel hoekom hulle hul lewe in gevaar stel.

Vir Peter Jacobs gaan dit oor oorlewing. Hy en sy familie werk al dekades lank in die myne in die omgewing. In 2008 is die Bontekoe-myn gesluit en het De Beers hom stelselmatig aan die gebied onttrek.

Vir Jacobs en vele ander soos hy is daar geen werkgeleenthede hier nie. Al wat hulle ken, is myn. Bowendien ken hulle die myngebiede soos hul handpalm.

Jacobs het gesê hulle weet hulle stel hul lewe in gevaar, maar dis ’n risiko wat hulle loop sodat hul families kan eet.

“Doen ons dit nie, dan krepeer ons almal.”

Die gat waardeur die myners by Bontekoe gaan, is so wyd soos die band van ’n bakkie.

Mynwerkers werk gewoonlik in pare.

Hulle klim in die gat af en daarna met ’n leer af tot in ’n gebied wat die “wagkamer” genoem word.

Niemand kan presies sê hoe diep dit tot by die wagkamer is nie. Sommige sê 6 m. Ander sê 12 m.

Op enige gegewe tyd kan tussen 15 en 60 mense hul beurt afwag om deur die twee tonnels wat uit die wagkamer loop te kruip na die gebied waar die ­diamante is, het Jacobs gesê.

Die myners kan net deur die tonnels kruip of op hul maag seil. Aan die einde van die twee tonnels gaan die myners die gebied binne waar die diamante gedelf word.

Dis bekend as “Facebook”.

Volgens Jacobs gebruik hulle gewoonlik hamers om die gruis los te kap.

“Ná amper twee uur se werk is jou 25?kg-sak gewoonlik vol. Jy beweeg terug deur die tonnel na bo, waar die volgende persoon dan jou plek inneem.”

- Beeld

No comments:

Post a Comment