Monday, 28 May 2012

Talle winkels in Roodepoort deur brand verwoes

Brandbestryders probeer om 'n brand by die Princess Crossing-winkelsentrum in Roodepoort onder beheer te bring. Foto: Bongiwe Gumede

'n Apteek, 'n restaurant, juwelierswinkel en 'n elektronika-winkel is vanoggend in 'n brand by die Princess Crossing-winkelsentrum in Roodepoort verwoes.

Brandbestryders op die toneel het alles in die stryd gewerp om talle ander winkels in die sentrum van verwoesting te red. Tot dusver is die Pick n Pay nog nie beskadig nie, terwyl swart rookwolke oor die gebied langs Westgate-winkelsentrum hang.

'n Hele paar brandweerwaens is op die toneel om die vlamme te probeer stuit.

Van die winkels wat in die slag gebly het is, The Hub, Dis-Chem, Contempo en Wimpy, asook Altech Autopage.

'n Groot groep mense drom by die winkelsentrum saam, terwyl polisie 'n wakende oog oor die brandtoneel hou en nooddienswerkers spook om die brand te blus.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburg-nooddiens (Jems) het op die toneel aan Beeld gesê die eerste noodoproep is omstreeks 05:30 van 'n sekuriteitswag by die sentrum ontvang.

Die brand het vermoedelik by die Dis-Chem-apteek ontstaan.

"Ons was binne minute op die toneel," het Mulaudzi gesê. Die presiese oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Sowat 60 m van die winkelsentrum se dak lê reeds in puin.

"Niemand is beseer nie."

- Die Beeld

No comments:

Post a Comment