Wednesday, 13 June 2012

245 renosters is al in 2012 in SA gestroop

245 renosters is sedert die begin van die jaar vir hul horings gestroop.

Dit beteken 25 renosters is die afgelope drie weke gestroop. Dit is meer as een per dag.

Die departement van omgewingsake het gister in ’n verklaring gesê die meeste renosters, 147, is in die Krugerwildtuin gestroop.

Private renostereienaars in Limpopo en Noordwes het tot dusver vanjaar onderskeidelik 34 en 24 renosters verloor.

161 mense is sedert begin vanjaar weens beweerde stropery in hegtenis geneem.

Hiervan was 138 vermeende stropers, 10 was ontvangers van renosterhoring, ses het glo renosterhoring vervoer en sewe word daarvan verdink dat hulle uitvoerders is. Intussen het ’n groep omgewingsaktiviste ’n petisieveldtog begin om te keer dat die regering die handel in renosterhoring oopstel.

Luidens ’n verklaring wat die groep gister uitgereik het, word daar tans erge druk op Edna Molewa, minister van omgewingsake, uitgeoefen om Cites (die Konvensie op die Handel in Bedreigde Spesies) in 2013 te oorreed om die handel in renosterhoring toe te laat omdat dit glo verdere renosterstropery sal keer.

Me. Miranda Jordan, sameroeper van die nasionale werkgroep wat saamgestel is uit ’n koalisie van dierewelsynorganisasies, het gesê wildboere en sommige private renostereienaars probeer die handel in renosterhoring ekonomies regverdig.

Die werkgroep voer aan wettige handel in renosterhoring sal talle nare gevolge hê, is oneties en sal tot die uitwissing van Suid-Afrika se renosterbevolking lei.

Die doelwit is om 200 000 ondersteuners te kry voordat dit aan Molewa gestuur word. Meer as 1 300 mense het al die petisie onderteken.

- BEELD

No comments:

Post a Comment