Thursday 14 June 2012

3 wesies brand ook dood

’n Dag voordat hulle in ’n nuwe blyplek sou intrek, het drie weeskind-boeties eergisteraand in ’n plek van veiligheid in Hartbeespoort, Noordwes, doodgebrand.

Dit bring die dodetal weens huisbrande in Beeld se verspreidingsgebied sedert die begin van die maand op 11 te staan. Nege van die slagoffers was kinders.

Brig. Thulani Ngubane, polisiewoordvoerder, het gesê Given Matlala (7) Norman Khoza (9) en Laurence Khoza (14) het in ’n houthuisie doodgebrand.

Die drie en hul vyfjarige sussie is ná hul ouers se dood weens siekte deur die departement van maatskaplike werk na die plek van veiligheid verwys.

Hul sussie het nou geen familie oor nie.

Stephanie Bentley (41), eienaar van Jedidiah Safe Haven & Crisis Centre (ook bekend as Harties Haven), het gesê die brand het omstreeks 21:05 uitgebreek.

Sy was saam met haar man, Rob (45) en dogter, Babsie (19), op die perseel.

“My man het homself verbrand om hulle te probeer help.”

Rob Bentley het brandwonde aan sy bo-arm en bors opgedoen.

Die houthuisie het langs ’n woonwa gestaan.

Twee toesighouers wat in die woonwa bly, het die twee jongste seuns bed toe geneem om te gaan slaap.

Laurence was nog in die huis se kombuis besig en is later na die houthuisie. Die sussie was in daardie stadium vas aan die slaap in ’n ander gebou waar die meisies woon.

Die twee toesighouers het van die geluid van vlamme wakker geword en die seuns te hulp gesnel. Hulle kon nie die deur oopkry nie.

Een van hulle het gehoor hoe ’n seun roep “Mamma!” voordat alles binne stil geword het.

Haro Rust van die buurtwag het gesê hy was op patrollie toe hy vlamme sien en het die brandweer en polisie gebel.

“Hulle het die vlamme met ’n tuinslang probeer blus, maar dit (die houthuisie) het binne minute heeltemal uitgebrand.”

Die woonwa is ook heeltemal vernietig.

Anton Gerber, ’n woordvoerder van die Hartbeespoort- brandweer, het gesê hulle het die oproep om 21:23 gekry en was teen 21:47 op die toneel.

“Al die hout het weggebrand en net die sinkplate was oor. Ons het die drie lykies in die puin gesien.”

Hy het gesê daar was geen kragnetwerk nie en die seuns het blykbaar net ’n flitslig by hulle gehad.

Chris More, ’n direkteur by die oord, het gesê volgens hul inligting het die seuns niks by hulle gehad wat ’n brand kon veroorsaak nie.

“Hulle het flitsligte gebruik nadat die kragtoevoer ’n week gelede afgesny is.”

Die vier weeskinders sou ná die Junie-skoolvakansie na ’n kinderhuis in Mafikeng getrek het.

Die seuns sou intussen gister hul intrek in ’n nuwe gebou op die terrein geneem het.

Hul sussie sal nou alleen na Mafikeng moet verhuis.

Volgens More is almal wat by dié oord betrokke is absoluut verpletter.

Traumaberaders het gister kort ná 14:00 op die toneel opgedaag.

- Beeld

No comments:

Post a Comment