Thursday 14 June 2012

Stappe verskerp teen hondsdolheid

Die Gautengse departement van landelike ontwikkeling het maatreëls verskerp om die verspreiding van hondsdol-heid in die provinsie te verhoed.

Vroeër die maand is die drie maande oue rondloperhond Simba, afkomstig van die Oos-Kaap, in Gauteng aan hondsdolheid dood en die departement vrees dat ander honde wat met hom in aanraking was die dodelike siekte kan versprei.

Simba is die derde troeteldier wat die afgelope 18 maande van ’n ander provinsie na Gauteng gebring is wat positief getoets is vir hondsdolheid.

Kragtens wet moet honde en katte ouer as drie maande teen hondsdolheid ingeënt word. Die inenting moet elke drie jaar herhaal word en jaarliks wanneer hondsdolheid uitbreek.

Dr. Malcolm de Budé, hoofdirekteur van die departement se veeartsenykundige dienste, het gister op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê die situasie is tans onder beheer, maar troeteldiereienaars moet hul diere nietemin dringend laat inent om verspreiding te voorkom.

“In 2011 is ’n kind in Gauteng dood nadat ’n hond met hondsdolheid hom in die oog gelek het. Dit hoef nie ’n byt te wees nie. Dit is die ergste moontlike manier om te sterf,” het De Budé gewaarsku.

Verlede week is die 29-jarige kanovaarder Graeme Anderson in Pietermaritzburg dood nadat die speeksel van ’n rondloperhond met ’n seerplek op sy hand in aanraking gekom het.

Verlede jaar was daar agt gevalle van hondsdolheid in Johannesburg en in 2010 was daar 44 gevalle.

Die departement het in 2009-’10 46 000 diere ingeënt en in 2011 87 000.

Nogtans is daar kommer dat die siekte kan versprei.

Daar was vanjaar reeds vier bevestigde gevalle in Kwa­Zulu-Natal, drie in Limpopo en een onbevestigde geval in die Oos-Kaap, het De Budé gesê.

“Sterftes onder mense is absoluut voorkombaar as hulle betyds behandeling ontvang. Indien nie is daar ’n 99,99%- kans dat hulle sal sterf.”

De Budé het gesê die departement bly op ’n gereedheidsgrondslag en moedig troeteldiereienaars aan om hulle diere te laat inent.

- Die departement sal troeteldiere van 18 tot 20 Junie van 09:00 tot 17:00 gratis by die Fourways-winkelsentrum in Johannesburg inent.

- Beeld

No comments:

Post a Comment