Thursday 14 June 2012

Die winter is hier


Roeland Gabriël van Swartberg Mountain Tours het die foto ingestuur. Hy en sy gesin het die naweek in die Swartbergpas gaan sneeu kyk.

GEORGE NUUS - Winter het sy tande die naweek behoorlik in die Eden-distrik gewys met sneeu wat die Swartberge in 'n wit kombers bedek het en die koue wat ook in George geniepsig geraak het met die kwiklesing wat Sondagnag tot 4°C gedaal het.

Heerlike pannekoek- en sopweer het die naweek afgeskop met 12.2 mm reën wat in George gemeet is. Dit het Saterdag begin opklaar toe slegs 0.3 mm geval het. Sondag was gedeeltelik bewolk en die sonnetjie het sy kop met tye vrolik uitgesteek om met 'n paar warm strale die koue maksimum van 14.9°C effentjies te versag.

Sondag is die laagste minimumtemperature in die res van die distrik ook gemeet. Oudtshoorn het Sondagnag die koudste gekry met 'n tempera-tuur van 0.5°C en Knysna-inwoners en Mosselbaaiers moes ook 'n ekstra kombers uithaal met temperature van onderskeidelik 4.5°C en 6.8°C.

Nadat die reënweer Saterdag die wyk geneem het, het die temperature Sondag in die distrik 'n aks gestyg. Knysna het Sondag 16.2°C gemeet, Mosselbaai 17°C en Oudtshoorn 16.5°C. Dit was nadat die laag-ste dagtemperatuur gedurende die naweek (gemeet in Oudtshoorn) op 11.2°C gaan draai het.

In Oudtshoorn het 'n skrale 1.8 mm reën Vrydag en 0.8 mm Saterdag geval, in Knysna 11 mm en 1.6 mm en in Mosselbaai 15.2 mm en 1.2 mm op dieselfde dae.

Swartbergpas in week toe
Die Swartbergpas was vir die naweek gesluit weens die sneeu, volgens Gerald Becker, provinsiale verkeershoof. Dit was Maandag egter weer begaanbaar, maar motoriste sou nie deurgelaat word nie weens padwerke wat 'n aanvang geneem het.

Volgens André Koopman, bestuurder van siviele dienste by die provinsiale paaiedepartement, word reënskade aan die pas en die ryvlak herstel. Stormwaterdreinering word ook opgegradeer en onderhoudwerk aan die klipmuur gedoen. Die projek behoort twee maande te duur, het Koopman gesê, maar motoriste sal steeds naweke kan deurry na Prins Albert. Die pad sal slegs van Maan-dag tot Donderdag daagliks tussen 07:30 en 17:00 gesluit wees.
Werke vind plaas aan Prins Albert se kant van die pas en van Calitzdorp se kant af sal motoriste Gamkaskloof steeds gedurende die week kan bereik.

Damvlak
Die bietjie reën het nie 'n noemenswaardige effek op die Tuinroetedam se vlak gehad nie. Dit staan tans op 76,7%.
Harold Basson, hoof van siviele ingenieursdiente, het gesê die hersirkuleringstelsel waardeur gesuiwerde rioolwater weer in die dam ingepomp word, word nie tans gebruik nie. Sodra huidige onderhoudswerk aan die Kaaimans-pompstasie voltooi is, sal die stelsel gebruik word. Dit sal waarskynlik teen die einde van die maand wees.

Hy het gevra Georgiete moet altyd besef ons leef in 'n waterarm land en dat water spaarsamig gebruik moet word. Waterverbruik is op vanaf die lae vlakke tydens die droogte toe 'n spesiale bewusmakingsveldtog rondom waterbesparing geloods is, maar is steeds heelwat laer as voor die droogte, het Basson gesê.

ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment