Wednesday 13 June 2012

Brand saai verwoesting by tehuis op Kleinmond


‘n Brand het vroegoggend by die GeriMed-tehuis vir bejaardes op Kleinmond uitgebreek. Luidens berigte het een vrou gesterf. (Pieta Pieterse)

Kaapstad – ‘n Bejaarde vrou het gesterf nadat ‘n brand by ‘n ouetehuis op Kleinmond uitgebreek het.

Carel Pieterse, mede-eienaar van die GeriMed-tehuis vir bejaardes, het aan Nuus24 bevestig dat die brand Woensdagoggend omstreeks 01:00 uitgebreek het.

Pieterse sê die brand het die lewe van Sophia Rautenbach (90) geëis. Hy het sy innige meegevoel met haar familie betuig, en bevestig dat hulle reeds van haar dood in kennis gestel is.

Hy sê niemand anders is beseer nie, maar agt van die 26 woonstelle in die kompleks het in die slag gebly. Verder is die infrastruktuur, eetsale en “hartklop” van die tehuis “weer aan die gang.”

Talle bejaardes se kosbare besittings, soos foto’s van geliefdes wat reeds oorlede is, is ook vernietig.

Volgens Pieterse is forensiese spanne nog besig om ondersoek in te stel, so die oorsaak van die brand is in dié stadium nog onbekend.

Pieterse het net goeie woorde vir sy gemeenskap gehad.

“Daar is die wonderlikste mense in hierdie gemeenskap! Die bure, mense van die dorp en mense van die straat het sommer in hul slaapklere opgedaag en kom help,” het hy vertel.

“Die Here is nog hier; daar ís nog mense wat omgee.”

Hy het ook die flink optrede van sy personeel geprys aangesien die bejaardes “binne minute ontruim” is.


- Nuus24

No comments:

Post a Comment