Monday, 25 June 2012

Chaos toe leeus ontsnap weens stormweer

BETHLEHEM. – Die dorp was die naweek in rep en roer nadat leeus hier op ’n plaas ontsnap het toe die stormweer in die gebied die heining van ’n leeukamp beskadig het.

Robbie Prinsloo van die plaas Energie buite dié dorp sê omstreeks 16:00 het ’n storm losgebars met haelkorrels so groot soos tennisballe. Stormwinde het bome omgewaai wat oor sy leeukamp se heining van drie meter geval en dit platgedruk het.

Hoewel mense aanvanklik na vyf leeus gesoek het, het slegs twee, ’n bruin leeumannetjie en -wyfie, uit die leeukamp gekom.

Hy het die polisie en nooddiens- en reddingswerkers ontbied, wat toe saam met hom na die leeus gesoek het. Die leeus is volgens Prinsloo binne ’n uur op buurplase opgespoor.

Die leeus binne die leeukamp is verdoof sodat hulle nie ook ontsnap nie.

Die leeumannetjie is onder meer op die Vrystaatse DA-leier, Roy Jankielson, se plaas Bruwershoop opgemerk en daar deur Prinsloo-hulle verdoof.

Jankielson het gister aan Volksblad gesê die leeumannetjie is steeds in ’n hok op sy plaas.

Hy sê hulle het groot geskrik toe hulle hoor dat die leeus ontsnap het.

“Ons was paniekerig oor ons perde, donkies en varke. Dit is diere wat voorheen uit haglike omstandighede gered is. Ek is net baie bly die leeus het nie enige diere of mense doodgebyt nie.”

Prinsloo het gister gesê benewens die skade aan die hokke is een van sy pakskure ook in die storm verwoes. Hy sê sy huis se dak, asook ander buitegeboue se dakke, is afgeruk.

“Ek bly al 35 jaar hier en dit is die eerste keer dat so iets gebeur.”

“Dit is choas om die leeus nou in ander kampe te kry,” het hy gesê.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment