Monday, 25 June 2012

‘Wolk met stert’ keer man onder TV-kas vas

REITZ. – Toe ’n verwoestende tornado Saterdagmiddag Jannie Beyers (76) van Reitz se plaashuis tref, het die TV-kas wat op hom geval het hom waarskynlik van erger beserings gered.

Beyers, ’n afgetrede boer, sal nie weer in sy huis kan gaan bly nie, want dit is waarskynlik onherstelbaar beskadig.

Corrie Claassen, Beyers se skoonsuster, het hom Saterdagmiddag gebel om te sê daar is ’n tornado in die omgewing. Toe Beyers by die venster uitkyk, met Claassen op die foon, het hy gesê: “Die ding is reguit op pad na my huis toe.”

Claassen het toe haar broer, Manie Fichardt, op ’n nabye plaas gebel en hulle is onmiddellik na Beyers se huis op die plaas Hester, het Fichardt gister gesê.

Met hul aankoms by Beyers se plaashuis, was hy onder ’n groot TV-kas van sowat vier meter breed en so hoog soos die huis se plafon vasgekeer. Fichardt-hulle het hom onder die kas uitgehelp en hom na die Mediclinic op Bethlehem gebring.

Volgens sy dogter, Hannelie Brink, het hy ribbeserings en baie kneusplekke opgedoen. Beyers is gistermiddag uit die hospitaal ontslaan.

Daar is byna niks van die plaashuis oor nadat ’n tornado deur die distrik verwoesting gesaai het nie.

“Bome is ontwortel, die dak is verwoes... dit lyk sleg,” sê Brink.

Hetty Steyn, ’n buurvrou van Beyers, vertel sy en haar suster was op pad huis toe, toe hulle ’n groot wit wolk gesien het.

“Maar toe sien ons hierdie wolk het ’n stert aan.”

Hulle het toe besef dit is ’n tornado. Die verwoestende wind het haar man se pakhuise en ’n splinternuwe stroper net-net gemis.

“Bome is opgelig en op buurplase se landerye neergesit. Die tornado het die stroper met omtrent 200m gemis,” vertel Steyn.

Sy was ook by Beyers se plaashuis.

“By oom Jannie is kragpale uit die grond getrek en in die omgewing neergesit. Die dak se sinkplate is sowat ’n kilometer ver van die huis gewaar.”

Jannie Beyers gaan voorlopig by Claassen op Reitz woon totdat sake met die versekering afgehandel is. Daarna gaan sy dogter-hulle saam met hom vir hom ’n huis op dié dorp soek, het Brink gister gesê.

Beyers se vrou is in 2004 oorlede.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment