Tuesday 26 June 2012

Hulp stroom in ná tornado tref

BLOEMFONTEIN. – Hulp stroom in vir slagoffers wat dakloos en sonder heenkome gelaat is toe ’n sterk tornado en rukwinde die naweek groot skade in dele van die Oos-Vrystaat veroorsaak het.

Op Kestell, waar meer as 81 huise en ’n kerk in die Tlholong-woongebied in die slag gebly het toe ’n tornado hier verwoesting gesaai het, het boere, kerkleiers en ander weldoeners vinnig ingespring om slagoffers te hulp te snel.

Rampbestuur het veral ’n nood vir kos en komberse geïdentifiseer.

Vroue van die NG gemeente op die dorp het ingestem om tot môre sop en brood aan sowat 150 inwoners te verskaf, terwyl twee boere in die distrik tans sowat 300 inwoners van warm kos voorsien.

Die Rooi Kruis het 60 komberse aan behoeftiges geskenk.

Sowat 20 komberse is ook aan plaaswerkers van die Welgegund-plaas op Eeram by Harrismith oorhandig en kos is ook hierheen gestuur.

Senne Bogatsu, woordvoerder van die Vrystaatse departement van samewerkende regering, het gesê die regeringsagentskap vir maatskaplike sekerheid maak kospakkies bymekaar en sal dit na verwagting môre aan inwoners oorhandig.

Die meeste slagoffers word deur gemeenskapslede gehuisves, terwyl die gemeenskapsentrum op Kestell ook reg staan om slagoffers te huisves.

Op Christenburg, Bethlehem, het lede van die gemeenskap kos aan inwoners oorhandig, het Clem Harrington, lid van die burgemeesterskomitee, gesê.

Dit kom nadat twee huise verwoes en ander se dakke deur rukwinde afgeruk is.

Anita Schoeman van Solidariteit se Helpende Hand het gesê mense wat dakloos gelaat is, word in die kerksaal gehuisves. Komberse en warm kos sal welkom wees.

Intussen het die Dihlabeng-munisipaliteit dienste aan die gemeenskap beskikbaar gestel.

Water word verskaf aan plase wat nie water het nie en plaaswerkers wie se huise deur die tornado beskadig is, word by die brandweersentrum gehuisves.

Werkers van die munisipaliteit het ook gister begin met opruiming in die Eden-hoewegebied. Bome en kragpale wat die naweek die pad versper het, is verwyder en inwoners het begin met herstelwerk aan hul huise.

Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom, het gesê tegnici is hard aan die werk om onderbreekte kragtoevoer na huishoudings te herstel.


- Die Burger Wes

No comments:

Post a Comment