Thursday 14 June 2012

‘Skakel alles af voor jy uitgaan’

Jan en alleman se nalatigheid is die grootste oorsaak van huisbrande dié winter.

So sê verteenwoordigers van nooddienste in Gautengse metromunisipaliteite.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, wat die afgelope week na verskeie sulke brande ontbied is, sê die toename in die aantal huisbrande in Pretoria die afgelope paar kouer weke is te wyte aan nalatigheid.

Volgens Pieterse is verwarmers en elektriese komberse wat aangelos word die grootste sondaars.

Mense vergeet ook dikwels strykysters aan, wat ook brande kan veroorsaak.

“Wanneer die persoon by die huis kom, is alles weg. Mense dink dit duur ure voordat ’n huis afbrand. ’n Huis kan binne minute heeltemal afbrand.

“Wanneer jy die vertrek verlaat, skakel alles af,” het Pieterse gesê.

Volgens Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, ontvang hulle in die wintermaande ook opmerklik meer noodoproepe oor brande in Johannesburg.

“Ons het verlede week 11 sulke oproepe ontvang en is die naweek na minstens vyf sulke tonele in Johannesburg ontbied.”

Brande is veral ’n probleem in en om die vele informele nedersettings in Johannesburg waar inwoners dikwels op kerse vir lig en gasstowe teen die koue en om kos te maak aangewese is. In die gevestigde woongebiede van Johannesburg is verwarmers weer die grootste oorsaak van brande, het Mulaudzi gesê.

Die Johannesburgse nooddienste het ’n toegewyde eenheid wat elke winter opvoedingsveldtogte voer om groter bewustheid van winterveiligheid onder mense te kweek. In gebiede waar dié eenheid mense al bearbei het, het brande afgeneem, het Mulaudzi gesê.

Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24-nooddienste, het gesê dit is die moeite werd om ’n rookverklikkertoestel in die huis te hê.

Pasop hiervoor

Uitgerafelde elektriese drade
Oorlaaide kragproppe
Ou elektriese drade onder matte
Brandende kerse
Verwarmers, elektriese komberse
Brandende sigarette, sigare en pyptabakkooltjies
Kaggels en ander vuurmaakplekke
Gaslekkasies
Brandende olie op ’n stoofplaat

- BEELD

No comments:

Post a Comment