Thursday 14 June 2012

Vlamdood vir bejaarde


Vlamdood vir bejaarde: In die verbrande kamer en badkamer, deel van die tengersorg-afdeling by Kleinmond-aftreeoord se wooneenhede, het ’n inwoner gisteroggend vroeg gesterf toe een vleuel van die oord afgebrand het.Foto: Denzil Maregele

KLEINMOND. – ’n Slag, ’n vrou wat gil en ’n wakker buurvrou wat dadelik die nagpersoneel gekontak het.

Dít is wat gekeer het dat meer as net een bejaarde van die Gerimed-tengersorg-afdeling van die Kogelpark-aftreeoord hier dood is toe ’n brand gisteroggend agt wooneenhede vernietig het.

Sophie Rautenbach (86) is blykbaar deur die vlamme oorval en haar liggaam is in die badkamer van haar wooneenheid gevind nadat die brand geblus is.

Die reuk van nat houtskool het teen gistermiddag nog sterk in die daklose gang gehang.

Al wat in elke kamer van die bejaardes van dié vleuel se persoonlike kosbaarhede en onthougoed oor is, is hopies swart as.

Tiekie Möller, bestuurder van Gerimed, het vertel sy is teen 00:30 deur die personeel wakker gebel.

“Die suster aan diens het gaan ondersoek instel nadat die noodklokkie gelui het. ’n Buurvrou van die oorledene het gesê sy het iets soos ’n klein ontploffing gehoor, en toe net ’n gil. Sy het eintlik gedink mev. Rautenbach het dalk geval, toe ontbied sy maar hulp.

“Toe die nagverpleegster daar kom, borrel die rook klaar onder die deur uit. Die oomblik toe sy die deur oopmaak, was die rook reeds só verstikkend, sy kon amper niks sien nie. Die vlamme het toe al die hele bed verswelg. Sy moes op haar knieë daar weg kruip omdat sy byna deur die rook oorval is.

“Die ander mense kon almal gelukkig, deur die personeel bygestaan, voor die vlamme uitgehelp word.”

Möller het groot lof vir die heldhaftige optrede van haar personeel, die brandweer én die polisie. Sy het bygevoeg die welwillendheid en behulpsaamheid van hul bure en die gemeenskap van Kleinmond ken geen perke nie.

Ook Carel Pieterse, skoonseun van die eienaar van die versorgingsoord, het gesê die noodplan het “soos ’n horlosie” gewerk.

Hy het die nuus in die nag gekry en moes van Langebaan deurjaag na die toneel.

“Dis ’n bestiering dat niemand anders seergekry het nie. Ons harte gaan uit na mev. Rautenbach en haar familie,” het hy gesê.

Rautenbach word oorleef deur drie seuns, Allen (47) van die Strand, en Willem (59), Gerard (61) en ’n dogter, Rina (61) – almal van Gauteng.

Volgens kapt. Martin Marthinus, stasiekommissaris van die Kleinmond-polisie, word die oorsaak van die brand nog ondersoek.

“Dit lyk of dit in mev. Rautenbach se kamer begin het.”

Met trane in haar oë het Dawn Meyer (78), een van die inwoners van die Gerimed-tengersorg-afdeling, gister in geleende klere oor haar noue ontkoming gepraat.

“Dit is die enigste aardse besittings wat ek oor het,” het sy gesê terwyl sy nog stywer geklou het aan ’n duvet wat sy van haar bed af kon gryp.

“My bril is ook daarmee heen en ek kan nie goed sien nie. Ek het net opgespring en gehardloop toe ek die rook ruik. Daar was nie tyd om enigiets anders saam te vat nie.

“Al my goed, my identiteitsboekie, my bankkaarte, alles is weg,” het sy vertel.

Teen gister 14:00 was sy terug by die aftree-oord, omdat daar reeds skenkings op die slagoffers gewag het.

Lede van die Kleinmond-gemeenskap het volgens Tiekie Möller, die bestuurder van Gerimed, “ongelooflik behulpsaam” opgetree en dadelik ingespring om van die nodige gebruiksartikels bymekaar te maak.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment