Monday, 18 June 2012

Sweedse dieretuinwerker deur wolwe doodgemaak

Stockholm – Mediaberigte sê ‘n dieretuinwerker het gesterf nadat sy deur wolwe aangeval is in hul kamp in Swede se grootste dieretuin.

Die TT-nuusagentskap het die dieredirekteur van die Kolmarden Wildlewepark, Mats Höggren, aangehaal waar hy gesê het die ervare 30-jarige vrou was alleen in die kamp toe die aanval Sondagoggend plaasgevind het en dat werkers van die dieretuin die gebied dikwels alleen binnegaan.

Die kamp bevat volgens berigte agt wolwe. Werkers van die park het eers besef iets het fout gegaan toe sy nie in radio-verbinding gebly het nie.

Die Aftonbladet-koerant het Höggren aangehaal waar hy gesê het werkers van die dieretuin en paramedici het die kamp binnegegaan nadat hulle ‘n menslike ketting gevorm en een persoon gewapen het, maar dit was te laat.

Höggren het gesê daar was geen ooggetuies van die aanval by die park, wat sowat 140 kilometer suid van Stockholm geleë is, nie.

- Sapa - AP - NUUS24

No comments:

Post a Comment