Tuesday, 12 June 2012

Treine lei tot 457 sterftes



KAAPSTAD. – Nie minder nie as 457 mense is in die jaar tot einde Maart 2011 in Suid-Afrika se spoornetwerk dood.

Dít blyk uit ’n skokkende verslag oor treinveiligheid in Suid-Afrika wat Volksblad onder oë gehad het.

Dié ongevalle sluit sterftes in wat veroorsaak is deur treinongelukke en ontsporings waarby grootliks Transnet en Prasa betrokke was. Altesame 1534 mense is beseer.

Die verslag, getitel State of Safety, is opgestel deur die Suid-Afrikaanse spoorreguleerder en handel oor die ondersoek wat oor die tydperk 1 April 2010 tot 31 Maart 2011 gedoen is.

Die hoofoorsake van die sterftes was treinbotsings, ontsporings, mense wat by treinoorgange (level crossings) deur treine raakgery word, pendelaars wat treine verwissel en voetgangers wat elders raakgery word.

Altesame 895 ontsporings is in dié tydperk aangemeld.

Luidens die verslag is die totale koste van alle spoorwegongevalle en veiligheidsvoorvalle in dié tydperk onderskeidelik vir Transnet R941miljoen en vir Prasa R123miljoen.

Dit is in Transnet se geval drie keer meer as in die vorige jaar.

Die reguleerder het verder gevind dat vandalisme en diefstal (17,6%) van spoorwegbates aansienlik toeneem.

’n Totaal van 1242 gevalle van vandalisme is in dié tydperk aangemeld, wat ’n 88%-toename op die voorafgaande jaar is.

Van die oorsake vir ontsporings en treinongelukke is volgens die verslag die swak toestand van treine en spoorinfrastruktuur.

Regeringswoordvoerders het nie teen druktyd op navrae gerea­geer nie.

Mike Asefovitz, ’n Transnet-woordvoerder, het gesê die maatskappy sit met ’n reuse-uitdaging as dit kom by die beveiliging van spoornetwerke.

“Ons bedryf 8000 treine per dag oor ’n netwerk van 20000km.”

Asefovitz sê vandalisme en kabeldiefstal het reuse-implikasies vir Transnet.

“Die impak van kabeldiefstal is nie net finansieel van aard nie, maar lei ook dikwels tot menslike tragedie.”

Transnet spesialiseer in vragvervoer en Prasa in passasierstreine. Prasa bedryf die Metrorail-treine in die grootste metro’s en ook Shosholoza Meyl.

Albei maatskappye is staatsbeheerde maatskappye.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het vroeër in ’n studie oor mynongelukke gesê tot vyf keer soveel mense gaan dood in spoorongelukke in Suid-Afrika as in mynbou-ongelukke.

“Die regering is met reg bekommerd oor mynongelukke en sterftes, maar dit blyk minder die geval te wees as dit kom by sterftes op staatsbeheerde spoorweë,” het Kerwin Lebone van die instituut gister gesê.

Ian Ollis, DA-LP, sê ’n dringende bestekopname moet gedoen word op alle treinroetes in Suid-Afrika.

“Ons moet ’n hersiening doen van die veiligheid en sekuriteit rondom die roetes wat Prasa in die metro’s bedryf en die lang roetes wat Transnet bedryf. Ons kan nie langer toelaat dat daar soveel ongevalle is nie,” het Ollis gesê.

- VOLKSBLAD

No comments:

Post a Comment