Friday 20 July 2012

Die euwel van Eskom se krag-monopolie

Eskom is soos Transnet ’n statutêre monopolie. Jy het nie veel van ’n keuse om ’n Eskom- of Transnet-kliënt te wees as jy elektrisiteit gebruik of treinvervoer soek nie.

Die uitgelekte verslag van Eskom wat dui op nog vyf jaar van kragtariefstygings teen 15% – ’n skerper tempo as inflasie – kan die doodskoot wees vir talle sake-ondernemings se planne vir uitbreiding, of hul blote voortbestaan.

Die ekonomie kou reeds langtand aan die afgelope drie jaar se stygings van byna 25%, en die nuus van nog ’n vlaag volgehoue skerp stygings is vir van die groot kraggebruikers net te dik vir ’n daalder. Veral in die lig van die heerlike bonusse en partytjies wat Eskom homself toeëien.

Sakelui weet dis nie gesond en volhoubaar om historiese of huidige swak bestuur en swak beplanning met hoër pryse te probeer regtoor nie. Eskom kan hom nog vasloop in die logika van die markte. As jou produk te duur word, koop mense minder daarvan. As jy jou pryse dan weer verhoog om dieselfde wins te handhaaf, koop die mense nóg minder. As die ekonomie die nodige werk moet skep om armoede te verlig, moet energie so goedkoop moontlik wees, binne die perke van beskikbare hulpbronne, asook die nuwe perke van kweekhuisgasteikens.

Eskom se prysstygings gaan al meer ondernemings en huishoudings wat dit kan bekostig bloot dryf na alternatiewe kragvoorsiening – Sasol bou reeds sy eie kragstasies en van die myngroepe het soortgelyke projekte. Stygende Eskom-pryse laat hernubare oplossings soos huishoudelike son- en windkrag in gebiede met die regte klimaat al hoe aantrekliker lyk.

Die mededinging tussen selfoonmaatskappye en Telkom het wondere vir pryse in die telekommunikasiebedryf gedoen. Dalk is dit tyd om die destydse planne vir ’n mededingende kragsektor af te stof sodat elektrisiteitsgebruikers ’n wyer keuse het as net Eskom. Intussen sal sakelui en verbruikers net nog meer innoverend moet word met energiedoeltreffendheid en alternatiewe om tariefstygings se pyn te versag.

- Die Burger

SAWDOS: Die SAWDOS is reeds besig om in sy eie alternatiewe kragbehoeftes te voorsien. Die SAWDOS beoog om teen die middel van 2013 selfonderhoudend te wees wat kragvoorsiening aan betref. Die SAWDOS is nie bereid om voortdurend blootgestel te word aan tarief verhogings nie, dit terwyl Eskom miljoene rande bestee aan partytjies. Vir meer besonderhede oor die alternatiewe krag projekte van die SAWDOS kan lesers HIER klik vir verdere besonderhede.

No comments:

Post a Comment