Friday 20 July 2012

Oudtshoorn: Rivier sleur bakkie mee


Na byna twee ure se gewerskaf waartydens 'n groot deel van die oewer ontbos moes word is die bakkie byna op droë grond nadat dit 'n hele nag tot by die dak onder water was.

OUDTSHOORN NUUS - 'n Rivier wat 'n boer al sy hele lewe lank ken en al honderde kere oorgesteek het, het Dinsdagaand byna sy lewe gekos.

"Dit was net die Here se genade dat die bakkie nie in die rivier omgeslaan het met my nog binne nie," het Bertus de Jager Woensdagoggend gesê. Hy vertel dat hy Dinsdagaand net na donker van die gimnasium af op pad huis toe was toe hy die Grobbelaarsrivier op die plaaspad net duskant Surval wou oorsteek.

"Die water het oor die brug geloop na die naweek se reën, maar in die bakkie se ligte kon ek duidelik nat spore aan die oorkant van die ri-vier sien wat beteken dat ander voertuie al deur die water is."

Volgens hom het die stroom nie baie sterk gelyk nie en die water was nie buitensporig diep nie. "Ek was amper aan die oorkant van die rivier toe iets voor teen die bakkie druk. Ek dink dit was 'n boomstomp wat onder die water was. Die volgende oomblik het die bakkie se linkerkant van die brug afgegly en ek het besef as die water die bakkie omstoot verdrink ek."

Hy vertel dat hy nie die bakkie se deur kon oopkry nie, maar daarin kon slaag om sy selfoon in die hande te kry en sy broer Arno om hulp kon vra.

"Dit het omtrent 15 minute geneem voordat hulle met die trekker opgedaag het, maar dit het soos vier jaar gevoel."

Plaaswerkers het die trekker op die bruggie langs die bakkie getrek en De Jager deur die venster tot op die trekker gehelp. Kort nadat hy uit die bakkie gehelp is het die water die bakkie van die brug afgespoel en sowat 10 meter saamgesleur.

Woensdagoggend het slegs 'n klein deel van die bakkie se dak en traliewerk bo die stroom, wat steeds sterk gevloei het, uitgesteek.

Paul Smuts van Oudtshoorn Plant Hire en 'n span helpers het Woensdagoggend meer as twee ure gespook om eers die rivieroewer te ontbos, groot klippe weg te rol en daarna die bakkie uit te sleep. Twee plaaswerkers het op die voorpunt van 'n meganiese laaigraaf vasgeklou en is op die bakkie se bak afgelaai om 'n kabel en kettings aan die bakkie vas te maak voordat hulle dit kon uitsleep.

ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR

No comments:

Post a Comment