Friday 6 July 2012

Kry Mosselbaai ‘n brandweer-akademie?

Mosselbaai mag moontlik eersdaags die Eden Distriksmunisipaliteit se nuwe Brandweer-akademie huisves.

MOSSELBAAI NUUS - Reddingsoperasies en die hantering van brande en ander rampe binne die Eden-distrik sal binnekort van hoër gehalte wees.

Die vestiging van 'n brandweer-akademie vir die Eden-distrik sal bydra tot hierdie belangrike verbeterde diens. Die Eden-distriksraad se rampbestuur, onder leiding van Gerhard Otto, sal verantwoordelik wees vir die opleiding by die brandweer-akademie.

Dorpe waar brandweerstasies sal baat vind by hierdie akademie sluit in George, Mosselbaai, Knysna, Ladismith, Riversdal, Oudtshoorn en Uniondale.

Alles dui daarop dat die akademie in Mosselbaai opgerig sal word. Die Mosselbaai Munisipaliteit se woordvoerder, mnr Harry Hill, sê Mosselbaai se Munisipaliteit het nog geen inligting van die Eden Distriksmunisipaliteit ontvang vir die perseel vir so 'n akademie nie.

Otto het pas van Los Angeles in Amerika teruggekeer, waar hy gaan navors het hoe soortgelyke akademies bedryf word. Hy het as gas van 'n Los Angeles-ontwikkelingsagentskap die land besoek. Wouter Jacobs, waarnemende hoof van Eden-rampbestuur, het Dinsdag gesê die proses is nog in die beginfase. Hy het bevestig dat die plan is om meer brandweerpersoneel in hoër standaarde van reddingspogings op te lei en dan in die Eden-distrik te ontplooi.

As alles volgens plan verloop, sal die nuwe brandweer-akademie teen Junie 2013 in werking wees.

- Mossel Bay Advertiser

-

No comments:

Post a Comment