Sunday, 29 July 2012

Suid Kaap - Verwarring oor nooddienste

UNIONDALE - Verwarring oor wie verantwoordelik is vir nooddienste in die Uniondale-gebied, wat De Hoop, Haarlem en Avontuur insluit, het onlangs tydens swaar reën en erge koue frustrasie veroorsaak.

“Ons is George se verantwoordelikheid,” sê Dave Hodgson. “Dit blyk asof die George-beheerkamer dit in ‘n stadium nie besef het nie.

“Ons het daarna mense reguit na Neels Barnard verwys. Barnard is waarnemende hoof brandweer en rampbestuur van George-munisipaliteit.

“Soos enige nuwe stelsel is daar haakplekke. Die grootste fout is dat Wendy Young nooit moes weggegaan het van rampbestuur nie - sy is die beste en ons was bederf om haar by ons te hê. Nou moet almal bontstaan in onkundigheid oor die gebied.

Indien ons Wendy weer by ons kan kry, sal dit wonderlik wees.” Hy was vol lof vir Gerhard Otto, hoof van rampbestuur van Eden-distriksmunisipaliteit en Wayne Young, senior brandweerman: Uniondale, van Eden.

Barnard en Johan du Preez, dorpsbestuurder vir George se wyke 24 en 25 het ook reëlings getref te Ongelegen en Haarlem. Volgens Hodgson is daar ook sprake dat Haarlem-brandweerdepot gaan toemaak. “Dis belaglik, want hoe gaan hulle deur Uniondale bedien word? Hulle betaal brandheffings en moet ‘n effektiewe diens ontvang, en dit is George se verantwoordelikheid.”

Hy wys daarop dat die Outeniquapas een van die kernroetes na Uniondale en Haarlem is. “Elke keer as dit swaar reën is daar ‘n moontlikheid dat die pas gesluit word. Hoe gaan George dan ‘n diens lewer aan Uniondale/Haarlem? “Nege uit tien maal wanneer daar ‘n ramp is, word George EN Uniondale/Haarlem geraak. Hoe hoop George om albei kante te bedien sonder ‘n amptenaar op Uniondale?

“Dis die kern van die probleem. George se begroting kan nie so ‘n persoon dra nie, en tog moet daar so iemand wees. Die persoon kan George tydens rampe help as Uniondale/Haarlem die ramp vryspring.”

“Net soos probleme met die ambulansdiens - daar is nie genoeg ambulanse vir die uitgestrekte gebied nie - kan ons met ‘n nuwe inisiatief na vore kom wat haalbaar is en ons mense se veiligheid kan verseker. Gelukkig kry ons goeie ondersteuning van provinsiale minister van gesondheid Theuns Botha en sy personeel en ons kan ‘n oplossing vind.

“Ons politici en amptenare is bekwaam en ‘n oplossing is haalbaar. Indien ons nie .
oplossings vind nie, gaan dit chaos wees en mense gaan seerkry.”

- AfriFokus

SAWDOS:  Op Maandag, 20 November 2006, het 'n vernietigende haelstorm 'n gebied oos van Haarlem getref.  Die storm het sewe plase erg benadeel waar besproeingstelsels en 389 hektaar vrugtebome vernietig is.  Dit het ook to gevolg gehad dat plaaswerkers beseer is.  Die storm het  die lewensbestaan van baie families ontwrig.  Direkte skadekoste het nagenoeg R9.2 miljoen rand beloop.  SAWDOS stem saam met die gemeenskap van Uniondale/Haarlem dat dit uiters noodsaaklik is dat 'n satelliet nood/brandweer- en rampbestuur depot permanent beskikbaar moet wees in die area.  Die aangeleentheid verg egter die dringende aandag van Eden Distriksmunisipaliteit.

No comments:

Post a Comment