Saturday, 11 August 2012

Oudshoorn: Rivier sleur trekker en twee werkers mee


Die Kamannassierivier wat hier die drif op pad na die proefplaas verswelg het hierdie week sy oewers oorstroom en 'n trekker met twee plaaswerkers in die Bo-Kamannassie meegesleur. Foto: Hannes Visser

Twee plaaswerkers op 'n trekker is laat Dinsdagmiddag deur die vol Kammanassierivier op die plaas Buffelsdrif in die Kammanassie-landboudistrik meegesleur.

Die werkers op Hannes van Rensburg se plaas het klaarblyklik die rivier tussen 17:00 en 17:30 met die trekker probeer oorsteek. Die trekker is meegesleur en het in die rivier beland. Die twee werkers, wie se name nog nie bekend gemaak is nie, is deur die siedende watermassa meegevoer.

Polisielede en -duikers het Dinsdag en Woensdag die oewers van die Kammanassierivier gefynkam, maar die twee werkers kon nie opgespoor word nie omdat die rivier te sterk loop.

Volgens Cavert Barkhuizen, voorsitter van Agri Bo-Kammanassie, het dit sowat 80 mm in die gebied gereën. "Die Kammanassieri-vier het vandag nog water van Uniondale se kant af gekry en die rivier kom sterk af. Die polisie sal moet wag met hul soektog totdat die rivier effe afgeloop het."

Volgens Barkhuizen is die trekker 'n vierwiel-aangedrewe Landini-trekker, wat baie hoër op sy wiele is as 'n gewone trekker. "Die werkers het seker gemeen die trekker sal kan deurry, maar die Kammanassie in vloed is 'n kwaai rivier."

By Avontuur het dit aan die begin van die week altesaam 120 mm gereën, het Dave Hodgson, voorsitter van Agri Avontuur laat weet. Daar was 'n rotsstorting in Uniondale Poort wat eenrigtingverkeer vir 'n tydlank genoodsaak het. Mense op privaat paaie langs die Keurboomsrivier, by Hollendrift en in die Kouga was teen Woensdag nog afgesny. By Uniondale is tussen 30 en 63 mm op verskillende plekke gemeet.

In die Bo-Kammanassie aan die bokant van Noll het dit sowat 44mm gereën en onderkant sowat 50mm terwyl by De Rust sowat 26 mm gemeet is. Die brug oor die Wynandsrivier op De Hoop se kant was vroeg Woensdagoggend onder water nadat dit sowat 60 mm in die gebied gereën het. In die Kango Valleie-gebied het 50mm gereën en die Olifantsrivier het sy walle oorstroom.

By Herold is 100mm gemeet en plase is deur die Doringrivier afgesny. In Waboom-skraal het 150ml geval.

Ladismith het sowat 77mm reën gekry, en op Oudtshoorn het sowat 42 mm geval. Die Olifantsrivier oorstroom sy oewers en die Kammanassierivier kom sterk af. Die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier op die Rooiheuwelpad tussen Dysselsdorp en Oudtshoorn is steeds gesluit, en die Oudtshoorn Navorsingsplaas kan slegs met die Bakenskraal-grondpad tussen die Rooiheuwels en die Olifantsrivier bereik word terwyl die Kamannassiedam nog sterk oorloop.

Volgens George van Biljon van die Stompdrift/Kamannassie waterverbruikersvereniging was die Stompdriftdam teen Woensdag byna 60% vol, terwyl die Kammanassiedam al die afgelope twee weke oorloop. Die Raubenheimerdam is ook vol.

- Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment