Saturday, 11 August 2012

Uniondale: Kommunikasiemas deels herstel


Werkers dra 'n kragopwekker na die kommunikasiemas op Mannetjiesberg. Radioverbinding is tydelik herstel nadat die mas middel-Julie weens 'n swaar sneeulas omgeval het. Foto: Verskaf

UNIONDALE NUUS - Noodsaaklike radioverbinding vanaf die kommunikasieto-ring op Mannetjiesberg by Uniondale is grotendeels herstel, maar telefoonverbinding is steeds 'n probleem.

"Boere en hul werkers, 'n span van CapeNature en mense van Eden rampbestuur het Vrydag tydelike herstelwerk bo-op Mannetjiesberg gaan doen," het John Fraser van J&E Communications, wat die herstelwerk beplan het, vroeër die week gesê.

Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig oor die kommunikasietoring wat middel-Julie omgeval het weens tonne sneeu en ys wat op die staalstruktuur saamgepak het en landbouers in 'n gebied van sowat 150vk km sonder radio- en telefoon-ontvangs gelaat het.

"Altesaam 21 mense, wat boere en hul werkers, 10 werkers van Cape-Nature en 'n reddingswerker van Eden rampbestuur insluit, is Vrydagoggend die berg uit met ekstra sonpanele en nuwe batterye, 'n kragopwekker en gereedskap sowel as ekstra antennes en antenne-kabels," het John Fraser van J&E Communications, wat die herstelwerk beplan het, gesê.

"Die swaar toerusting is die laaste ent teen die steil berghang uit gedra. Ons het die stukkende sonpanele vervang en die batterye installeer om die antennes van elektrisiteit te voorsien. Van die gebreekte antennes is ook vervang."

Volgens die oorspronklike beplanning sou Telkom ekstra sonpanele en die swaar toerusting per helikopter na die bergtop neem. Die planne het egter Donderdagaand deur die mat geval en die toerusting moes toe die berg uitgedra word. Telkom se telefoonverbinding, wat in die afgesonderde landelike gebied sonder selfoonsein onontbeerlik is, is steeds wisselvallig.

"Ons was vir drie weke afgesny," het Jasper Retief, polisiereservis in die gebied gesê. Retief het die erns van die situasie verlede week onder Piet Lodder, hoofbestuurder van Agri Klein Karoo se aandag gebring en die bal is aan die rol gesit.

Retief, Henkie du Plessis, voorsitter van Agri De Rust en Laurence Howell, voorsitter van Agri Uniondale, het met hul bakkies en werkers die toerus-ting help vervoer en die steil berghang aangedurf.

- Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment