Friday 7 September 2012

Danabaaiers besorg oor strande


Kennisgewings waarsku toeriste teen gevaarlike toestande by die twee strande in Danabaai. Inwoners meen daar word weinig gedoen om toerisme na die area te bevorder, en die strande vergelyk swak met ander strande in die dorp.

DANABAAI NUUS - Danabaaiers is bekommerd oor die toestand van hul strande, wat tydens die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) insetvergadering op 3 September deur inwoners as lewensgevaarlik beskryf is.

Inwoners het wyksraadslid Flip du Plessis gevra wanneer die herstel en opgradering van Eerste Strand, wat vir Januarie 2012 geskeduleer was, 'n aanvang gaan neem.

Op sy terugvoer dat herstelwerk onderhewig is aan 'n impakstudie, is die feit dat die toegang tot strande lewensgevaarlik is en nie eens vir inwoners toeganklik is nie, benadruk. Inwoners het daarop gewys dat beide strande reeds maande met plastiekomheining afgekamp is en swak afsteek teenoor ander strande op die dorp en beslis nie vir toeriste aantreklik is nie.

Die doel van die GOP vergadering was om insette te bekom om die munisipaliteit te lei in voorgestelde opheffingsprogramme.
Die sowat 60 inwoners wat die vergadering bygewoon het, was dit eens dat hulle 'n vergadering met die munisipale topbestuur en uitvoerende raad verlang vir behoorlike terugvoer oor die begroting en die prestasie van die raad ten opsigte van vorige jare se GOP insette.

Du Plessis het onderneem om binne die volgende twee weke inligting oor sodanige vergadering te sirkuleer.

Inwoners was dit eens dat gebrekkige kommunikasie tussen die munisipale raad en die gemeenskap bestaan. Een inwoner het die stelling gemaak dat die Raad uit voeling is met die gemeenskap.

Ander brandpunte wat die inwoners aangespreek het, is die gebrek aan duidelike aanwysings vanuit Louis Fourieweg na Danabaai. Daar is ook gewys op die gevaar van slegs een toegangsroete na Danabaai, sou daar weer 'n groot brand woed. Inwoners meen ook dat weinig gedoen word om toerisme in die area te bevorder.

Du Plessis het die inwoners gelyk gegee dat die padoppervlak van veral Heideweg dringend aandag kort, terwyl talle ander strate ook vir herstelwerk gelys is.

Die brandgevaar wat veral op privaat eiendom ontstaan weens die versuim om indringerbosse uit te roei, is aangespreek en die gemeenskap het met dank verneem van bome wat deur die Raad bewillig is vir aanplanting. Die Bewarea ondersoek tans geskikte plekke vir die aanplant van hierdie bome. Du Plessis het die inwoners uitgenooi om die Raad te kontak oor beskikbare bome.

Inwoners het gemaan teen erosie by die rioolstasie en beswaar gemaak teen die voortdurende onaangename reuke wat aan 'n visverwerkingsaanleg en PetroSA toegeskryf word. Die wykskomitee het egter draagbare toerusting wat hierdie reuke monitor en deur Eden Distriksmunisipaliteit nagegaan word.

Ander versoeke het 'n sportsentrum met rolbal- en jukskeibane en die opgradering van die gemeenskapsaal ingesluit. Jonger inwoners het sportfasiliteite vir kinders en jongmense voorgestel.

'n Inwoner het gevra dat die bushaltes verwyder word en 'n toegewyde verkeersbeampte vir Danabaai aangewys word.
Raadslid Du Plessis het onderneem om op 31 Oktober behoorlike terugvoer oor die versoeke vir installering van veiligheidskameras te gee.

Weens die verskillende aard van die kiesafdeling is daar besluit om op 11 September in die Aslasaal 'n soortgelyke vergadering te hou om behoeftes daar aan te spreek.

- Mosselbaai Advertiser

No comments:

Post a Comment