Friday 7 September 2012

Bloemfontein stik en hyg in ‘donker lente’


Die smeulende stortingsterrein wat ’n vuil rookkombers oor dele van die stad laat neersak het. Foto: Charl Devenish

’n KLAG is gister uit inwonersgeledere by die Groen Skerpioene ingedien oor die brande wat sedert die naweek tot gister op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein gewoed en tot ’n ernstige rookprobleem in woonbuurte en huise gelei het.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê benewens die klag by die Groen Skerpioene het talle inwoners by van die brandweer tot die polisie en by ’n prokureur gaan kla. Die DA hou ook deurentyd die probleem dop en sal vandag besluit op stappe.

Ontstoke inwoners wat onder die rook en gasse deurloop, sê dit is “?’n donker lente” vir hulle in Bloemfontein. Waar hulle na die lentelug uitgesien het, kry hulle nou swaar onder die lugbesoedeling.
Die rook en gasse maak sommiges siek.

Wim Grobbelaar, voorsitter van die Onafhanklike Gemeenskap-aptekersgroep in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê by sy Pellissier-apteek koop inwoners nou baie medisyne vir allergieë, sinusprobleme en asma. Asmalyers sê les op.

Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, sê dié hospitaal se noodeenheid het baie navrae hanteer van mense wat bekommerd is oor die rook in hul buurte en huise.

Die Life-Rosepark-hospitaal het ook onder die rook deurgeloop.

Hannika Struwig, kommunikasiebestuurder van dié hospitaal, sê die rook en neerslag van die brande op die ashope het in die hospitaal se lugfilters aangepak.

“Ons moes dit die afgelope week twee keer skoonmaak vir vars lug in die hospitaal. Dokters kla die hospitaal stink. Ons het nog nie pasiënte (weens die rook) gekry nie, maar sommige personeel moes uit huise trek. ”

Elizabeth Cloete sê sy en haar man, Pieter, slaap reeds in die spaarkamer met ’n waaier aan en verseël die deur met ’n kombers om hul ongebore baba teen die rookbesoedeling te beskerm.

“Ek is baie emosioneel en huil heeltyd. Daar kom ook bloed by my neus uit. Ek is naar, het hoofpyn en soms is daar ’n bloedsmaak in my mond.”

Sy het gister ’n klag by die stadsbestuurder ingedien.

Henry Otto van Fauna sê hy en sy vrou het ’n prokureur gaan sien om stappe teen die metro te doen. “Ons hyg na asem.”

Sebongile Mazibuko, stadsbestuurder, en haar bestuurspan het self die asgat saam met omgewingsinspekteurs besoek om ondersoek in te stel na die gasse wat hier vrygestel word en die rook wat soos ’n vuil kombers oor dele van die stad hang.

Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die metro, het gesê teen gisteraand laat was die brande op die stortingsterrein geblus met baie grond wat ingery moes word. Die rook sal egter nog ’n tyd neem om te verdwyn, het hy gesê.

Volgens hom het metaangas op die stortingsterrein, ou voertuigbande en sterk winde die probleem van brande op die stortingsterrein vererger.

Hoe die brande ontstaan het, is nog onbekend, het hy gesê.

’n Inwoner, Roelien Fourie, het op Facebook geskryf: “In die pragtige lente verstik ons in die suide van die rook. Die munisipaliteit is mos so onbevoeg om die vullishoop te onderhou, dat hulle dit aan die brand steek. Al bly ons omtrent 10 km daarvan af, kan ons nie behoorlik asemhaal nie.”

- Die Volksblad

No comments:

Post a Comment