Monday 3 September 2012

Giftige rook maak mense woedend

Dik, swart rookwolke het Saterdag oor Bloemfontein gehang. Die rook is weens die onbeheerde brande in die Suidpark-stortingsterrein langs die N1-snelweg.Foto: EMILE HENDRICKS

DIE wolke swart, toksiese rook uit die Suidpark-stortingsterrein wat die naweek oor Bloemfontein gehang het, het die vrees vir ’n ernstige gesondheidsgevaar onder omgekrapte inwoners laat ontstaan.

’n Afvaardiging van die Mangaung-munisipaliteit het gister ’n besoek aan die terrein gebring nadat ’n stroom klagtes oor moontlike gifgasse ontvang is.

Talle inwoners beskuldig die munisipaliteit daarvan dat hy geen beheer hier het nie en nie die kommer en gesondheid van die belastingbetalers ernstig genoeg opneem nie.

Inwoners van suidelike woonbuurte soos Fauna en Rocklands is die ergste geraak en het selfs die naweek uit hul huise getrek.

Palesa Segai van Rocklands het gesê die rook het mense hier gedwing om agter toe deure en vensters te skuil terwyl die aaklige reuk van brandende buitebande in die lug gehang het.

“Die kinders kon nie eens buite speel nie.”

Ansie van der Berg van Fauna het gesê dié woonbuurt was onleefbaar.

Sy vrees dat dit haar en haar gesin gaan siek maak. Sy kla dit is nou die tweede week wat die rook inwoners se lewe omkrap.

Qondile Khedama, die munisipaliteit se woordvoerder, het die inwoners om verskoning gevra en gesê ’n span is na die stortingsterrein gestuur om die gemors onder beheer te bring.

Volgens hom is die metaangas hoogs vlambaar en dit kan tot die brande aanleiding gee.

“Die brande is aangesteek deur die baie sterk wind.”

Khedama sê die munisipaliteit gaan die sekuriteit by die terrein verskerp om ook só die brande te verhoed.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment