Tuesday 23 October 2012

Seun (5) doodgeskok


SASOLBURG. – ’n Vyfjarige seuntjie van Pretoria is Saterdag langs die Vaalrivier op Vanderbijlpark by die motor van ’n springkasteel doodgeskok.

Ruan Schlebusch het oomblikke voor sy dood nog geglimlag vir ’n foto saam met sy stiefma, Tersia Madelyn Schlebusch, in die Stonehaven-on-Vaal, ’n gewilde familie-kuierplek.

Ruan se pa, Louwrens, se niggie Nicola Senekal het vertel: “My dogter Cheverné Duvenage (7) en Ruan het mekaar om die springkasteel gejaag en touchers gespeel.”

Cheverné het Ruan geraak toe hy in ’n roosbedding by die springkasteel geval het.

“Hy het begin skree. Sy het gevra hoekom hy skree, maar hy het nie geantwoord nie.”

Ruan het sy hand op die handvatsel van die springkasteel se motor gesit om hom op te trek toe hy geskok is.

“Cheverné wou hom help en het aan die motor gevat en is ook geskok. Die motor het omgeval en op die kinders se bene beland.”

Ruan se sussie, Danél (8), het na Senekal gehardloop en gesê haar boetie kry seer. Cheverné en Ruan se oë het albei omgedop.

“Die oomblik toe ek aan hulle raak, het my hele liggaam tot stilstand geruk. Ek is ook geskok. Ek kon nie my dogter onder die motor uitkry nie.”

Senekal het aan die masjien gevat en die skok was erger.

“Ek het vir myself gesê die kinders moet hier uit. Ek het Cheverné uitgetrek. Ek kon nie ’n greep op Ruan kry nie, want die stroom het my saamgetrek, dus het ek die krag by die muurprop afgesit.”

’n Dokter wat by Stonehaven was, het noodhulp op Ruan toegepas en paramedici van Netcare 911 het later oorgeneem. Ruan is egter op die toneel dood verklaar.

“Stonehaven se personeel het dadelik gehelp waar hulle kon.”

Cheverné se een hand kon nie lekker vasvat nadat sy geskok is nie en paramedici het haar ook behandel.

“Sy het brandwonde op albei bene, sy ly aan skok en haar lyfie is styf vandag. Haar tong het ook aan die een kant geskroei.Sy verkwalik haarself, want sy sê sy kon Ruan nie loskry nie,” het Senekal gesê.

Die Schlebusch-egpaar en Ruan se ma, Yolandi Enslin, was gister nog te geskok om oor die voorval te praat.

“Dit is ’n baie tragiese voorval, ’n eerste in 18 jaar,” het Rex Anderson, eienaar van die Stonehaven-on-Vaal, gesê. “Dit is ’n plek vir families dié. Só iets moet net nie gebeur nie...dit is tragies.”

Volgens hom is die motors van die springkastele getoets die oggend toe dit opgestel is en was alles reg.

Die ongeluk het omstreeks 16:30 gebeur.

Ao. Kinnie Steyn van die Vanderbijlpark-polisie het bevestig dat ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen is en dat die voorval ondersoek word.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment