Tuesday 23 October 2012

Swartkops in vloed, keer mense vas


Veilig uit die vasgekeerde gebied...Hier help Lance Habron vir Madelein Human,(middel links), Chane Human en Skigh Lantze van die sleepwa.Foto: Deon Ferreira

PORT ELIZABETH.– Danksy ’n vasberade boer met sy trekker en ’n sakeman wat inkopies gaan doen het, kon minstens 60 vasgekeerde siele in die Kruisriviergebied Saterdag darem weer kosvoorraad kry.

Kruisrivier is ’n landbougebied naby Uitenhage waar die Elands- en Swartkopsrivier mekaar kruis. Albei dié riviere, en die Kamesh, nog ’n rivier in dié gebied, is in vloed.

Nader aan Despatch moes 76 mense van ’n Christelike groep, onder wie talle studente, en ’n hond gister omstreeks 04:30 weer van ’n kampeerterrein langs die Swartkopsrivier gered word toe vloedwater die paaie oorspoel en dié gebied afgesny het.

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is met viertrekvoertuie en vierwiel-motorfietse daarheen, maar kon nie deur die water kom nie.

“Die lede het toe toue om onder meer bome, ontwortelde bome en boomstompe in die vloedwater as ankerpunte gespan, waarna die kampeerders tou-langs deur die NSRI-lede na veiligheid gebring is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI bevestig. “Selfs die hond is gered.”

Wat die Kruisrivier-vasgekeerdes aanbetref, het Albert Harbron, sakeman van Uitenhage, vertel hoe die mense hom al van verlede Woensdag begin bel het om te sê die kosnood druk.

Harbron se gruisgroewe is ook in dié gebied.

“Die suiwelboere het veral swaar begin kry omdat hulle nie die melk anderkant die rivier tot op Uitenhage kon kry nie.”

Teen Vrydag het die oproepe só benoud en die lysies van benodigdhede al só lank begin raak dat Harbron navrae oor ’n helikopter begin doen het.

“Maar die ouens het gesê dit is te gevaarlik om te vlieg.”

Gevolglik het hy en Verny Kemp, suiwelboer van “anderkant” die malende Swartkops, besluit om Saterdagoggend die rivier te probeer oorsteek.

Harbron het al die benodigdhede gaan koop, waterdig in sakke toegedraai en na die oewer van die rivier gebring.

Kemp met sy trekker en sleepwa het aan die ander oewer gestaan.

“Die water was gelukkig toe net so ’n meter hoog. Binne ’n halfuur het ons al die proviand oorgekry,” vertel Harbron.

Kemp het nie net melk nie, maar ook van die vroue en kinders weer na die Uitenhage-kant van die rivier gebring.

’n Driekwartier later het die water tot twee meter bokant die driffie gestyg en nog nie weer gesak nie. “Ons was net betyds,” het Harbron gesê.

Die verwagting is dat die water nog tot volgende Dinsdag of Woensdag só hoog kan bly.

Harbron is gerus. “Dít wat hulle nou het, behoort lank genoeg te hou. Daar is net een vrou wat spyt is omdat sy vergeet het om aartappels op haar lysie te sit.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment