Friday 27 January 2012

Slange aktief in somerhitte

Foto: 'n Kaapse kobra soos hierdie een wat tydens die voorval doodgemaak is, kan tot 'n volwasse lengte van tot meer as twee meter groei.

SUID-KAAP NUUS - Slange word dikwels beskou as onwelkome besoekers, maar dit kan lewensgevaarlik wees om 'n slang sonder die nodige kundigheid alleen aan te durf. Die meegaande foto's is onlangs deur 'n ontstelde leser van Island View, Mosselbaai, ingestuur.

Die slang is by die woning se agterdeur gevind. Van die onbeboude erwe in die area is bebos en die leser het ook berig dat 'n hond in die area van ‘n slangpik dood is.

Die slang is intussen deur 'n kenner geïdentifiseer as die Kaapse kobra wat 'n dodelike neurotoksiese gif vrystel.

Slangverwydering word deur die Mosselbaai Brandweer gedoen. Werner Laufs, die Brandweer se slangkenner, het bevestig dat daar in die afgelope tyd meer verwyderings gedoen is. Hy het onder andere onlangs in Aalwyndal twee boomslange op een dag verwyder. Slangverwyderings is ook in Island View en Vakansieplaas gedoen.

Die giftige slange wat mees algemeen in die Mosselbaai-omge-wing voorkom is pofadders, boomslange en die Kaapse kobra. Slange kom egter gewoonlik nie in beboude areas voor nie. Een van die redes wat moontlik hiertoe bydra is die teenwoordigheid van prooi soos muise in beboude areas waar huishoudelike vullis aangetref word.

Laufs het voorts gesê dat lede van die publiek daarop bedag moet wees dat hulle, veral gedurende die warm somermaande, deure wat na buite lei en selfs onderste vensters wat naby grondvlak of bome is, moet toehou. Wees bedag op die teenwoordigheid van knaagdiere rondom die huis, aangesien dit 'n lokaas vir slange kan wees. Indien 'n slang gewaar word, moet daar 'n veilige afstand van minstens twee meter gehandhaaf word.

Vermy ook staptogte in beboste areas of dra beskermende stapstewels.

Die publiek moet liefs nie self probeer om ‘n slang te vang nie maar dit eerder deurgaans dophou terwyl kundige hulp ontbied word.

- George Herald

No comments:

Post a Comment