Friday, 15 June 2012

Vroegoggend brand verwoes gedeelte van Mosselbaai Sportskool


MOSSELBAAI NUUS - 'n Gedeelte van die ou Sportskool op Mosselbaai, nou bekend as Summer Place, is omstreeks 02:30 op Vrydagoggend, 8 Junie in 'n brand verwoes.

Die area reg voor die gebou in Marshstraat was deur die nag vir verkeer gesluit, maar is weer oopgestel nadat die brand geblus is. Mosselbaai se nooddienste, insluitend die elektrisiteitsdienste se noodspan, was gou op die toneel om die situasie te beredder.

Volgens mnr Linden Baker, een van die inwoners, het die brand in een van die hoekkamers op die boonste vlak ontstaan. Die oorsaak van die brand is egter onbekend.

Baker het berig dat een van die inwoners, mnr Esterhuizen, in nood na hom geroep het. Toe hy by hierdie persoon se kamer kom, was die kamer reeds in ligte laaie. Hy het die inwoner, 'n ou man, versoek om met die trap af en na buite te beweeg, terwyl hy die brand met 'n brandblusser onder beheer probeer bring het. Etlike minute later, toe Baker besef dat die brand hom baasraak, het hy Esterhuizen steeds by die trappe aangetref, totaal gedisoriënteerd en verwese. Esterhuizen het al sy karige besittings in die brand verloor.

Baker het daarna die ander inwoners uit die gebou ontruim. Hierdie inwoners, onder andere klein kindertjies, moes die koue, nat en winderige toestande buite trotseer terwyl die nooddienste die situasie hanteer het.

Wanbetaling
Mnr Harry Hill, die munisipale woordvoerder, het bevestig dat die elektriese kragtoevoer na die gebou verlede week weens wanbetaling afgesny is. Die uitstaande skuld het reeds digby R24 000 beloop, en die jongste rekening was R12 000. Ten spyte van verskeie beloftes, is die agterstallige betalings blykbaar nie op datum gebring nie. Volgens Hill is daar in die onlangse verlede, na 'n inspeksie deur die brandweer, 'n kennisgewing uitgereik ten opsigte van die nie-nakoming van verskeie brandveiligheidsregulasies by die gebou. Die munisipaliteit berig voorts die krag is reeds verskeie kere ontwettig aangeskakel nadat dit afgesny is.

Van die kamers in die gebou was teen R1 140 per maand verhuur, wat basiese dienste soos water en elektrisiteit ingesluit het. Na die brand moes die inwoners alternatiewe heenkome soek.

Die gebou word deur twee entiteite beheer, naamlik Summer Season Trading en New Heights.

Die gebou behoort aan die Departement Openbare Werke, en is op tender verhuur aan 'n konsortium. Die departement is van die brand verwittig.

Baker wil die Mosselbaai Brandweer en nooddienste bedank vir die uitstekende wyse waarop die brand geblus en die situasie in die vroeg-oggendure hanteer is.

Met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die gebou, was van die besittings van 'n inwoner nog oor 'n bed in die kamer gestrooi, 'n aanduiding van die spoed waarteen die kamer ontruim is.

Die inwoner in wie se kamer die brand vermoedelik ontstaan het, het sy inkomste verdien deur speelgoed te maak wat hy op straat verkoop het. Hy het erken dat hy alles in die brand verloor het, en het verwese op die straat voor die gebou rondgestaan. Voor die brand het hy aan die Mossel Bay Advertiser sy lot bekla nadat die elektrisiteit afgesny is. Hy het berig dat hy kospakkies by die ACVV ontvang het, maar nie kon eet nie omdat hy nie water kon kook nie.
Op navraag van die Mossel Bay Advertiser, het die Departement van Sosiale Dienste onderneem om na die nood van die inwoners van Summer Place om te sien.

Hoewel die oorsaak van die brand met die ter perse gaan steeds nie opgeklaar was nie, het die brandweer en nooddienste volgens Baker toegestem dat die gebou verder bewoon mag word, mits die boonste verdieping, waar die brand gewoed het, nie betrek word nie.

Meisieskoshuis
Anne Swart, toe 'n inwonende onderwyseres van Hoërskool Punt se meisieskoshuis, was geskok om te verneem dat "haar" kamer in die brand verwoes is. Sy berig dit was heerlik om daar te bly. Eintlik was die koshuis net vir hoërskool meisies. Die seuns het in die ander koshuis, Huis Willem van Heerden gebly, maar almal het in die meisieskoshuis geëet, die heerlikste kos. Tannie Cielie Dippenaar en Tannie Kritzinger was die kostannies, onder leiding van Helen Jooste. Elke inwoner het maar sy gunsteling "koshuiskos" gehad en Swart s'n was definitief die varktjops en gestoofde kwepers!

Met die bou van die nuwe skool bo, is die koshuiskinders met 'n bus aangery. Daar was natuurlik vaste studietye en die gebruiklike klokke wat gelui het. Woensdae was dorp-toe-gaan dag vir die kinders. Sondae het almal as 'n groep Moedergemeente toe gestap, beide soggens en saans.

Helen Jooste, ook 'n jare-lange inwoner onthou juis hoe Waldie, die koshuisouers se hond, die kinders skool en kerk toe vergesel het, totdat 'n kerklidmaat teen die hond se stemmige teenwoordigheid beswaar gemaak het. Sy vertel ook hoe beide leerders en onderwysers Sondae liefs ete-uitnodigings van die hand gewys het, want die koshuiskos was net te lekker.

Vrye tyd, in die dae voor televisie en slimfone, is verwyl deur voor die koshuis bal te speel, tot nadeel van verskeie vensterruite, en deur, soos vele Mosselbaaiers steeds doen, Sondae om die Punt te gaan stap en selfs by die sloep te gaan swem.

Almal is dit eens dat hierdie statige gebou in ere herstel moet word en tot ware voordeel van die dorp, verkieslik vir toeriste, aangewend moet word.

SIEN NOG FOTO'S HIER.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment